Matteus 6: 31-34
Ermelo in die Hoëveld het die pragtige verskynsel van digte mis in die oggende. Dit is soms so toegetrek dat ’n mens selfs wanneer jy gaan draf, onrustig voel oor wat voor jou lê. Dikwels voel dit of sulke oggende eintlik na jou toe uitskreeu dat jy net moet omdraai en moet slaap totdat die weer môreoggend beter lyk. Tog het die burgers van Ermelo die gesegde dat ’n mistige oggend op ’n meesterlike middag dui. Die tendens is dat elke oggend wat so mistig begin, deur die loop van die oggend in ’n heerlike sonskyndag verander. Nietemin het jy vertroue in die tendens nodig wanneer jy in die oggend aantrek vir skool of werk. As jy warm gaan aantrek vir die mistige oggend, gaan jy swaarkry wanneer die mis opklaar en die son heerlik skyn.
In die bergprediking van Jesus lyk dit of Jesus dieselfde opdrag vir ons geloof gee. Dikwels bevind ons ons ook in die digte mis van die lewe waar ons niks rondom ons kan sien nie. Ons natuurlike reaksie is om ons te bekommer oor wat vir ons voorlê en hoe die dag gaan verloop. Maar Jesus sê vir ons dat ons die dag soos normaal moet aanpak. Ons kan in elk geval nie met bekommernis die mis wegvat nie, en as ons te wild reageer, kry ons later spyt en swaar. Die Here weet wat ons nodig het, ons hoef nie bekommerd te wees nie. Doen wat jy moet en vertrou op die Here. Tog is daar ’n baie belangrike sin wat ons ter harte moet neem in vers 33. Ons word nie geroep om op ons eie stoom maar net te doen wat ons wil en dan te verwag dat die Here al die omstandighede in ons guns sal laat val nie. Ons moet besig wees om in kontak met die Here, in die koninkryk van die Here, te leef. Dan kan ons vertrou op die sorg van die Here.
Mag ons in ons vertroue ook beleef hoe die Here van ’n mistige oggend ’n meesterlike middag maak.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
