Genesis 12: 1-9
In die geskiedenis van die volk Israel is daar ’n klompie dinge wat gebeur het waaroor hulle skaam was. Hierdie volk het miskien, soos baie van ons vandag, gehunker na ’n oorbegin. Genesis 12 is die eerste hoofstuk van God se oorbegin met die mense van die wêreld. Ná die skepping het God bedroef geword deur dit wat die mens gedoen het. Die teleurstelling het sommer vroeg al begin by Adam en Eva. Dit was ’n geskiedenis van verraad en geweld wat saam met die sondeval en daarna die sondvloed gekom het.
God het ’n droom van ’n opregte geloofsgemeenskap gehad, en Hy gebruik ’n klein groepie mense om sy droom in aksie te stel. Hy gebruik onder andere vir Abram en Sara. Dit is ’n vreemde keuse, want Sara wat die moeder van die nageslag sou wees, is onvrugbaar, en Abram, die vader van die nageslag, is ’n heiden uit Ur en hy was al oud. Ons logika sou vir ons sê dat God eerder iemand sou gebruik wat vrugbaar is en Hom volg.
Uit die geskiedenis sien ons egter dat God nie mense kies wat perfek en foutloos is nie, maar juis gewonde mense, en Hy gee aan hulle ’n Goddelike roeping. Hy maak nie staat op vermoëns of ons vertroue of selfs ons geloof nie. Hý kies, Hý roep, Hý rus toe en Hý stuur.
As ons mooi daaroor nadink, is daar nie veel verskil in God se kerk vandag nie. Die kerk is ook ’n samestelling van gewonde en sondaarmense. Mense wat soms vol twyfel en vrees is, maar tog is elkeen geroep om deel te wees van God se kerk.
Wanneer onverdraagsaamheid, afsydigheid en ongeduld soms die oorhand wil kry, laat ons altyd onthou dat God ons gekies en geroep het.
Gebed
Dankie, Heer, dat U ook vir my as sondaar gekies het om u kind te wees. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes