Markus 15

Regdeur die Markus-evangelie word Jesus se verstaan van Homself as Messias, wat gekom het om te ly en te sterf, gestel teenoor die dissipels en die skare se reaksie op Jesus as die Oorwinnaarkoning, wat gekom het om die Romeinse magte te oorwin. Selfs nadat Jesus vir sy dissipels in Markus 10 sê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vir baie, verstaan hulle nog nie die soort Koning en Messias wat Jesus is nie.

In Markus 15 speel die finale interaksie tussen kruisigers en Gekruisigde, tusssen ongeloof en Godverlatenheid, voor ons oë af. Die kruisteologie van Markus vind sy hoogtepunt in die klaarblyklike laagtepunt van die kruisgebeure – daar waar Jesus Christus aan ’n kruis moes ly en sterf. Tussen die omstanders se ongeloof en Jesus se Godverlatenheid. Tussen kruisigers en Gekruisigde. Ons aanskou Christus, die Gekruisigde, gelaster, beledig, gespot, verneder. Ons aanskou die skare kruisigers, spottend, smalend, skreeuend: Kruisig Hom!

Maar hier op Jesus se kruisweg het ons nie net te doen met kruisigers en die Gekruisigde nie, maar ook met kruisdraers. Voordat Hy die Gekruisigde word, is Jesus die Vervloekte Kruisdraer. Onderweg na Golgota word Simon van Sirene ’n gedwonge kruisdraer. Markus koppel Jesus se kruisweg aan dissipelskap, want hierdie gedwonge kruisdraer word later self ’n dissipel van Jesus, en sy seuns, Aleksander en Rufus, sou ’n belangrike rol in die vroeë kerk speel. Min het hierdie gedwonge kruisdraer geweet dat Jesus ook om sy onthalwe Vervloekte Kruisdraer sou wees.

Só aanskou ons die skande van die kruis tussen ongeloof en Godverlatenheid. Maar die skande van die kruis het nie die laaste sê nie. Die ongeloof van omstanders is nie die beslissing nie. Vir die wêreld is die Gekruisigde Christus ’n struikelblok en die kruis ’n skandelike dwaasheid. Maar vir óns is die Gekruisigde Christus die krag en wysheid van God en die kruis ’n teken van God se opofferende liefde en heerlikheid.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap