Kolossense 3: 1-17
Gelowiges kan troos daarin vind dat wanneer ons eendag voor God sal staan, Christus alles in almal sal wees. Dit is die gawe van die evangelie. Vir ’n gelowige is Christus ons lewe. Alles wat ons sê en doen, gebeur in die Naam van ons Here. Kan ’n mens wat deur geloof so aan ons Here Jesus verbind is, voortgaan met ’n lewe wat net op aardse dinge gerig is, en net aardse dinge belangrik ag?
Paulus sê nee! Ware geloof verteenwoordig ’n radikale breek met die ou, sondige mens. Gelowiges word nuwe mense, met nuwe prioriteite. Tog is dit ook waar dat die nuwe mens nie eensklaps ’n volmaakte mens is nie. Onder leiding van die Heilige Gees, leer Paulus ons, word die nuwe mens van dag tot dag al hoe meer vernuwe om die beeld van sy Skepper te weerspieël. Hierdie proses behels dat ’n mens veg teen die aardse begeertes en dit weerstaan. ’n Gelowige mens vertoon nuwe gewoontes. So iemand is meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam, geduldig, vergewensgesind, liefdevol, gevul met vrede, dankbaarheid en wysheid. Hulle sing graag vir die Here. Is dit onrealisties? As God nie bestaan het nie, sou ek saamstem dat dit onrealisties is. Maar juis omdat God bestaan en dag vir dag met ons besig is, weet ek dat die proses van vernuwing in ons elkeen aan die gang is.
Gaan dink weer mooi oor u lewe in Christus. Gaan leef die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God kom. Wat u ook al sê of doen, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Gebed
Vader, stuur u Heilige Gees ook in my hart sodat ek dag vir dag vernuwe kan word. Dankie dat ek u kind kan wees en kan deel in die liefde van u huisgesin op aarde. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid
