Matteus 8: 23-27 en 28: 16-20 (AFR2020)
Matteus skryf baie pertinent: Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Om hier in die boot te klim, beteken om Jesus te volg. Verskeie vroeg-Christelike leermeesters het die boot as simbool van die kerk gesien.
Die Jode het goed geweet dat God alleen oor storm en see beskik (Ps 65: 8; 89: 9-10; 107: 23-32). Daarom is die wonder van die see en wind wat bedaar nie maar net ’n demonstrasie van Jesus se magswoord as Seun van God nie, dit is openbaring van God. Jesus word aan sy dissipels geopenbaar as hul Redder en daarmee saam as Redder van die boot/die kerk/die wêreld.
Ons maak die ontdekking tydens die fees van Epifanie dat dit God se begeerte is om heidene in sy koninkryk in te sluit en getroue kerklidmate te beskerm tot die einde toe. Die boot/kerk/kerklidmate beland ook in die storms van die lewe. Ons belewe ook kleingeloof, teenspoed, uitsigloosheid, onsekerheid en aanvegting. Die God wat ons wêreld binnetree deur Jesus van Nasaret, bly egter in ons midde deur sy Gees en sy Woord en sakrament. So lei en bewaar Hy kerklidmate deur storms en herstel Hy opnuut ons vertroue om God te glo. So roep Hy ons as kerk telkens weer op om Hom te volg – om in die boot saam met Hom te vaar, ondanks ons geneigdheid om op te gee met mekaar; ons geneigdheid om op te gee met die kerk; en selfs die geloof as veeleisend of ’n randsaak af te maak.
Wie is Jesus van Nasaret wat ons wêreld binnegekom het? Hy is God en het mag oor die natuur (Matt 8: 23-27); mag oor bose geeste (Matt 8: 28-34); mag om sondes te vergewe (Matt 9: 1-8).
Hoekom sal ek die Christus volg? Hy leer ons aangaande die Vader: dat hiérdie God alleen God is wat liefhet; graag met my in ’n verhouding wil tree; bereid is om in my plek te sterwe; en van my vra om Hom lief te hê met alles wat binne my is.
Ds André Thomas, Oos-Moot
