Miga 5: 2-5
God se liefde kan nie uitgewis word nie. In Miga 5 lees ons van die Here se beloftes tot by Christus se koms. Lukas 1: 39-45 beskryf hoe Johannes die Doper reeds voor sy geboorte reageer oor die koms van Christus. Johannes maar ook sy ma, Elisabet, Maria en Sagaria, is opgewonde oor die koms van Christus. Dit getuig van God se aktiewe liefde vir sy skepping.
Die teks roep elke gelowige op om God se liefde en trou te omhels. Die liefde en trou wat God toon teenoor sy volk. Dit is dáárdie liefde wat ’n hoogtepunt bereik met die koms van Christus. Dan kan Godskinders bely: …want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. God wat vol liefde en trou vir sy kinders is, se beloftes is duidelik in Miga en loop soos ’n goue draad tot in die Evangelies. Christus het gekom en sal weer terugkom. Beloftes van hoop en redding. Die eerste hoofstukke van Miga is ’n enorme oordeelsaankondiging en slegte nuus. Nou draai die boodskap en die inhoud is nuwe hoop en verwagting vir elke gelowige. Daar sal ’n koning kom wat as herder sal optree. Teen hierdie tyd is dit ’n bekende beeld vir die Here in die Ou Testament, ’n beeld wat versorging, bewaring, veiligheid en rustigheid skep. ’n Herder wat voortdurend sal sorg en omgee. Die swaar oordeelswoorde word vervang met ’n bekende beeld van ’n herder wat die hulpelose en die weerlose sal beskerm.
In Miga 5 is die beloftes van hoop duidelik. Geboorte van nuwe lewe en omstandighede kom uit die geslag van Dawid. Wanhoop word hoop, moedeloosheid word afgeskud vir nuwe moontlikhede. Hierdie kind wat gebore word, is nie sommer net nog ’n baba nie. Met Advent spoor dié gedeelte ons aan om hoopvol te leef en hoop vir ander te wees. In ’n gebroke samelewing wat skreeu van ongeregtigheid en hopeloosheid, word ons opgeroep om aan God vas te hou, want daar is vir ons ’n Redder gebore.
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth