Efesiërs 3: 14-21; Filippense 2: 9-11
Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Hoe kan ons dan anders as om Hom te eer en te erken? God is soveel meer as die grootste oorwinning wat enige mens al ooit kon behaal. Geen maanlanding of Wêreldbekertrofee kan ooit groter eer ontvang as wat God toekom nie. Geen sportster of pop-ikoon behoort meer aandag en toewyding van ons te ontvang as wat God moet ontvang nie.
Ons behoort elke dag met ons hart en gedagtes na God gerig te lewe in die besef dat alles wat ons het, ’n genadegawe van God is. Soveel lewens word vernietig omdat mense die verkeerde dinge in die lewe najaag. Aansien en erkenning in mense se oë het belangriker geword as die erkenning wat ons van God af ontvang. Kinders begin al vroeg in hul lewens bewus raak van die dinge wat aardse erkenning ontvang, maar hulle word nie noodwendig geleer dat hierdie dinge geen ewigheidswaarde dra nie. Die regte adres, die regte motor, klere met ’n duur handelsmerk, die vertoon van welvaart, alles aardse dinge wat ten koste van soveel ander waardevolle dinge in die lewe ’n spoor van vernietiging nalaat. Dit gaan nie oor wat ek het of nie het nie, maar veel eerder oor wat ek doen met dit wat God aan my toevertrou het.
Filippense 2: 5-18 leer ons dat Jesus die voorbeeld is wat ons moet nastreef en dat ons as ligdraers in die wêreld moet optree deur die Woord van die lewe uit te dra. Waar sal ek begin? Deur dieselfde gesindheid op te neem wat daar ook in Christus Jesus was. Hy het mense en die wil van sy Vader eerste gestel. Hy het Homself verneder tot in die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef … en elke tong sou erken: Jesus Christus is Here! (Fil 2: 9-11).
Aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal
