Matteus 27: 15-26
Lank gelede is die skare voor die keuse gestel: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word. Wie moet losgelaat word? Klink tog dieselfde: Albei se naam is Jesus. Barabbas beteken seun van die Vader. Hy is ’n gesiene vryheidsvegter wat as volksheld beskou word; hy is ’n voorloper in die stryd teen die Romeinse owerheid en gevange geneem tydens ’n oproer in die stad. Christus beteken die Gesalfde. Hy is gevange geneem in die tuin van Getsemane waar Hy besig was om te bid. Hy bring bevryding van die mag van die sonde.
Pilatus stel die keuse, want hy weet dit is uit afguns dat die priesterhoofde Jesus oorgelewer het. Sy vrou waarsku hom oor die droom wat sy gehad het oor die onskuld van Jesus wat aangekla is. Dadelik kom die skare se keuse: Barabbas moet vrygelaat word, en hul uitroep op Pilatus se vraag oor wat hy met Jesus moet doen, is heftig: Kruisig hom! Hulle antwoord nie die vraag oor wat die kwaad was wat Jesus gedoen het nie. Nog harder die uitroep: Kruisig hom!
Vandag nog word u en ek ook in en deur die wêreld voor die keuse gestel: ’n lewe met Jesus, die Christus, of ’n lewe sonder die gekruisigde Here. Sommige wil daarmee selfs niks te doen hê nie en voer nie eens ’n keuse uit nie. Byna ’n houding van Sê liewer niks, dan is daar niks. Die Christengelowige kan nie anders nie as om met oorgawe te sê dat sy lewe aan die Here behoort. Want dít is my enigste troos. In lewe en in sterwe behoort ek aan Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, Hy wat weer sal kom!
Gebed
Ons wy onsself aan Christus toe, aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang, die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien, met blydskap vir Hom werk.
(VONKK 158: 1)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark
