Johannes 9: 1-41

Die genesing van die man wat blind gebore is, het op ’n sabbatdag plaasgevind. Dit het vir die Fariseërs ’n yslike probleem geskep. Volgens die Fariseërs se verstaan van die wet, begaan Jesus ’n oortreding van die wet wanneer Hy klei meng om aan die man se oë te smeer. Hiermee het Jesus die Fariseërs uitgedaag en terselfdertyd hul godslasterlike optrede blootgelê. Jesus is Here van die sabbat. Die punt wat Hy maak, is dat die rus op die sabbat genesing in gedagte het. Die Fariseërs het geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts in en deur Jesus kan doen nie. Daarom gebruik Jesus ook die genesing van hierdie man om sy Goddelikheid en die heerlikheid van God te belig. Jesus kon nie ’n beter dag gekies het om hierdie gebroke man te genees nie. Die sabbat is daar vir die mens – dit is daar om moeë en gebroke mense met God se gawes van heling en genesing te bedien, en daardeur word God verheerlik.

Met die opdrag aan die man om hom in die Siloambad – Siloam beteken die een wat gestuur is – te gaan was, het Jesus moontlik na Homself verwys as die Gestuurde van God en as die lewende water. Indien dit so is, beteken dit nie net reiniging nie, en nie net genesing nie, maar lewe. Indien jy Jesus ontmoet en Hom ontvang vir wie Hy is, word jy gesond, sien jy, en leef jy.

In sy laaste gesprek met die man wat nou kon sien (Joh 9: 35-38), vra Jesus hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” Hy het geantwoord: “Wie is dit, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.

Dit is die punt van dié wonderteken. Jesus doen die werke van God. Jesus is die heerlikheid van God en Jesus moet aanbid word. Dit is hoekom Jesus na die wêreld gekom het, sodat ons Hom sal sien as die Seun van die mens en Hom aanbid.

Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Share via
Copy link
Powered by Social Snap