1 Korintiërs 12: 12-31

Die beeld van die kerk as liggaam van Christus met verskeie lede word algemeen gebruik, nie net in ons tuisgemeentes nie, maar ook in die breër kerk. Ons erken daarmee dat daar plek is vir verskillende denominasies en dat elkeen se unieke nis en bydrae belangrik is. So erken ons ook dat elkeen in die gemeente ’n unieke rol het om te speel en dat almal se bydraes nie dieselfde is nie. Die liggaam van Christus is ’n besondere beeld om hierdie dinamiese werking te illustreer.

Soms mis ons ’n bietjie die punt van hierdie beeld. Ons wissel van gemeente na gemeente op soek na waar ons “inpas” of waar ons ander kry wat ook “soos ons is”. Kan jy jou indink hoe ’n liggaam lyk wat net uit oë bestaan? Of een wat net uit hande of voete bestaan? So ’n liggaam noem ons gewoonlik gebreklik, en so ’n liggaam het heelwat uitdagings en limiete ten opsigte van daaglikse take. Die balans is net af.

Wat dalk eerder nodig is, is dat ons inskakel by gemeentes waar ons ’n unieke bydrae kan lewer. Dit beteken dat ons nie noodwendig mense “soos ons” daar gaan kry nie en ook nie noodwendig “inpas” nie, maar dit is die punt. Die bydrae wat ek kan lewer met my roeping en taak, is uniek. Wanneer ek in my geloofsgemeenskap ’n bydrae kan maak, is ek waar ek moet wees. Dit is wel belangrik dat ons nou nie begin rondskuif omdat ’n gemeente nie iets aanbied waarin ek graag wil help nie. Die uitnodiging is eerder om dit wat ek kan bydra, by te dra deur daarmee te begin. ’n Gebalanseerde liggaam is ’n gesonde een wat effektief kan funksioneer. Kyk eerder waar jy kan bydra as waar jy kan inpas.

Ds Thomas Dreyer, Malelane