1 Korintiërs 15: 1-12
Geleerdes is dit eens dat die dissipels geglo het dat hulle die een of ander ervaring gehad het waarin Jesus aan hulle na sy dood verskyn het. Die eerste getuienis van verskynings kry ons by Paulus in 1 Korintiërs. Hy bevestig dat hy persoonlik die opgestane Christus ontmoet het (1 Kor 9: 1 en 1 Kor 15: 8). Paulus sê ook dat Jesus aan spesifieke mense verskyn het: Sefas, toe aan die 12 dissipels, en daarna aan meer as 500 mense tegelyk. Toe aan Jakobus, en weer die apostels. Dit is ’n kragtige getuienis: Name van spesifieke mense word genoem. Dit is geskryf in ’n tyd waarin mense dit nog kon naspeur en die feite bevestig met dié wat genoem is, omdat hulle nog geleef het.
In die Evangelies kry ons ’n paar verskillende verskynings aan verskillende mense, sommige aan individue, sommige aan groepe, en aan saggeaarde mense soos Johannes en skeptiese mense soos Tomas (Joh 20; Luk 24; Joh 21; Hand 1-5).
Skeptici verduidelik egter dat hierdie ervarings nie toegeskryf moet word aan kontak met die opgestane lewende Jesus nie, maar dat dit hallusinasies was. Dit is egter bekend dat die sielkundige verskynsel van hallusinering ’n persoonlike, individuele verskynsel is. Net een persoon kan ’n hallusinasie op ’n slag sien. Een persoon kan nie ’n hallusinasie na ’n ander persoon oordra nie. Vir 12 mense om op dieselfde tyd dieselfde hallusinasie te kry, sou onmoontlik wees.
Die getuienis is dat Jesus mense toegelaat het om aan Hom te vat, Hy het saam met hulle geëet. Jesus het ook nie net aan mense wat Hom goedgesind was, verskyn nie. Hy het aan een van die grootste vyande van die vroeë kerk (Saulus) verskyn – ’n gebeurtenis wat Saulus so oortuig het van Christus se identiteit dat hy een van die grootste verkondigers van die hoop in Christus geword het.
Ds Juanita du Preez, Pierneef
