Psalm 117
Het jy ook al kinders gesien wat ’n groot geskenk by hul ouers kry, en dan sê hulle nie eens dankie nie? Dit maak ’n mens sommer vies! Maar dan kry jy kinders wat vir die kleinste gunsbewys of geskenkie van hul ouers af, ongelooflik dankbaar is. Dit maak jou hart sommer bly. So beskryf hierdie Psalm eintlik hoe God se kinders moet reageer op die groot geskenk van redding wat die Here vir ons gegee het. Ons word opnuut opgeroep om die Here te loof en prys!
Psalms 115-118 is tradisioneel in die Joodse erediens gebruik wanneer hulle Pasga gevier het. Pasga is ’n baie belangrike viering in die Joodse godsdiens omdat dit God se redding van die Israeliete uit Egipte vier. Ons vier ook die redding wat God aan ons geskenk het met elke erediens – ons redding deur Jesus Christus! So kry hierdie Psalm vir ons ’n nuwe betekenis. God wat deur Christus vir my en vir jou en vir die wêreld redding gebring het.
Israel was nie die einde van God se reddingsplan nie. God het gekies om deur hulle sy redding te bring. Om hulle as instrument te gebruik. Party Jode het gedink dat net die Jode God se volk is, maar van die begin van die Ou Testament af tot regdeur in die Nuwe Testament sien ons dat God nie net vir die Jode omgee nie. Sy omgee is te groot om dit net vir een volkie te hou. Daarom was Israel eintlik ’n voorbeeld van hoe God se liefde almal bereik, want dit het uitgesprei na al die nasies.
Die woord magtig word in hierdie Psalm gebruik as ’n militêre term om te wys dat God se liefde sterker is as enige aanval daarteen. Met ander woorde, niks kan God se liefde keer nie. Daarom is dit so belangrik dat ons nie net hierdie liefde van God, sy evangelie, vir onsself probeer hou nie, maar dat ons dit gaan verkondig. Ons doen dít uit dankbaarheid vir die liefde en genade wat God oorvloedig in ons lewens uitstort!
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
