1 Korintiërs 15: 54-57

Jesus weet wat vir Hom voorlê in die week voor die kruisiging: Daar wag verloëning, ’n dissipel wat Hom verraai, ’n kerk wat Hom verguis, en ’n regering wat Hom wreed gaan behandel. En steeds kies Hy om op te daag – op ’n donkie van alle diere. Hy kies nie die Arabiese perd, die simbool van oorwinning, nie. Maar tog was Hy uiteindelik Oorwinnaar. Ná die dood aan die kruis, kom daar ook ’n opstanding tot lewe. As dit nie gebeur het nie, sou ons nie ’n vreugdelied in ons harte kon hê nie; sou ons nie met ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan, in hierdie ongenaakbare wêreld kon leef nie.

Paulus volg ’n interessante benadering wanneer hy ’n brief skryf aan die gemeente in Korinte. Hy skryf dit uit die oogpunt dat ’n mens moet dink wat die gevolg sou wees indien Jesus nie opgestaan het uit die dood nie. As Jesus Christus nie opgestaan het nie, is ons aan die kettings van ons sonde vasgebind. Genadiglik is daar nou vir ons vergifnis! Die lewe gaan nie daaroor om te beweeg van sleg na goed nie. Dan kon ons dit regkry met moralisme of humanisme. Dan het ons nie vir Jesus nodig nie. Ons eie menslike pogings kan ons van sleg na goed neem, dis nie so moeilik nie. Maar ons diepste behoefte is om te beweeg van dood na lewe.

Dit kan net ’n lewende Jesus doen! Die Een wat opgestaan het uit die dood. Paulus sê in 1 Korintiërs 15: 14 as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking en ons geloof sonder inhoud. ’n Geloof sonder inhoud beteken jy het niemand om te vertrou nie. ’n Dooie Jesus kan vir jou niks doen nie. ’n Lewende Jesus is die Een aan wie jy kan oorgee en weggee. Geloof in hierdie lewe gaan nie net oor toewyding nie, maar om oor te gee. Ware, egte geloof met ’n vaste fondament en inhoud gaan daaroor om volledig weg te gee: ’n oorgee van myself aan God.

Ds Janine Fourie, Wonderboom-Suid / Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap