Matteus 5: 1-11
Matteus 5 begin met Jesus se bekende bergrede. In hierdie gedeelte word die woorde Geseënd is julle nege keer na mekaar herhaal. Matteus 5: 8 lees: Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Die Boodskap vertaal hierdie vers met Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.
Die Griekse woord vir rein wat in Matteus 5: 8 gebruik word, is katharos. Dit beteken vlekkeloos van skuld, onberispelik skoon, suiwer. Die Deense teoloog Søren Kierkegaard het gesê reinheid van hart beteken om net een ding in die lewe na te jaag, naamlik God. Die enigste manier om rein van hart te word, is om by God te begin. Om diep in jou binneste te kyk en werklik eerlik met God en met onsself te wees oor die dinge waarmee ons in ons harte besig is op ’n daaglikse basis. Reinheid van hart kan nooit van buite af geskep of herstel word nie. ’n Rein hart begin by God en hou voortdurend die fokus op God. Dis ’n daaglikse proses van verootmoediging en belydenis. Die Hollandse teoloog Van Ruler het tereg opgemerk: Die hart word nie onrein deur wat hy in die lewe ervaar nie, maar die hart word van binne af onrein. Dit sluit aan by wat Jesus in Markus 7: 15 gesê het: Die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein.
Die Lydenstyd is ’n tyd waarin ons stil en eerlik voor God en voor onsself kom staan. Is daar dinge in jou hart wat moet verander? Wat is die dinge wat jou weghou van God? Hoe oordeel jy oor ander mense? Hoe neem jy besluite? Watter dinge in jou hart moet verander en vernuwe word? Mag jy in hierdie Lydenstyd jou hart kom oopmaak voor die Here. Mag dit ’n tyd van selfondersoek wees. Mag jy daarna smag om met ’n rein hart te lewe.
Lees Gesang 389: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers
