Die meeste gemeentes en lidmate aanvaar deesdae dat daar predikante is wat beroep kan word. Daar was immers die afgelope halfeeu baie predikante, ja, op ’n tyd selfs ’n surplus predikante, sodat matrikulante huiwerig was om teologie te gaan studeer weens die min werksgeleenthede.

Skielik is die situasie omgekeerd: Daar is ’n tekort aan predikante en te min jong studente wat as predikant afstudeer.

Met net 200 predikante wat in ongeveer 270 gemeentes diens doen, is daar talle gemeentes wat nie meer hul eie predikant het nie. Op sommige plekke in die land is die gebrek aan predikante akuut: In die hele Noordelike Natal is daar slegs een predikant, in die ring van Pietermaritzburg is daar net twee voltydse predikante en een deeltydse predikant, in Oos-Kaapland is daar slegs een voltydse en drie deeltydse predikante, en in die hele Vrystaat is daar slegs vier voltydse en vyf deeltydse predikante! Selfs in gebiede waar die Hervormde Kerk tradisioneel sterk verteenwoordig was, is daar weinig predikante oor: In die Wes-Transvaal wes van Klerksdorp is daar maar drie predikante oor, en in die ring van Chrissiesmeer net twee voltydse predikante en een deeltydse predikant. Die deeltydse predikante is in die meeste gevalle emeriti wat selfs op gevorderde leeftyd steeds ’n gemeente in alle opsigte bedien en versorg.

Die slegte nuus is dat die situasie nie gaan verbeter nie. Inteendeel, oor die volgende ses jaar tot by die 75ste Algemene Kerkvergadering (AKV) gaan ’n verdere 52 predikante aftreeouderdom bereik en emeriteer. Dit is omtrent ’n kwart van die Kerk se diensdoende predikante. Baie min predikante gaan na emeritaat voort om ’n gemeente te bedien. Verder moet ons helaas ook rekening hou met die feit dat diensdoende predikante wat om persoonlike redes vroeë emeritaat aanvra of die bediening verlaat, medies ongeskik kan raak of voortydig te sterwe kan kom.

Daar is nóg ’n tendens wat in die laaste tyd ’n uitvloei van predikante tot gevolg het: Die verbeterde ekumeniese verhoudinge van die Hervormde Kerk met die NG Kerk en ook met lidkerke van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK of in Engels WCRC) het die deure geopen dat Hervormde predikante beroepe na ander kerke aanneem. Oor die afgelope ses jaar het ons op hierdie manier 18 predikante verloor – gemiddeld drie predikante per jaar.

Nou ja, dan moet ons net ’n jong proponent beroep! hoor ek sommige gemeentes sê. Ons gemeente se finansies druk in elk geval en ’n jong proponent kos ons veel minder as ’n senior predikant. Behalwe dat die Hervormde Kerk tans slegs 16 teologiestudente versprei oor ses studiejare het! Daar is dus baie min nuwe predikante wat elke jaar afstudeer, en in sommige gevalle geen student nie. Verder is die oorgrote meerderheid teologiestudente tans dames, en daar is om die een of ander rede na meer as 40 jaar steeds in sommige gemeentes weerstand teen vrouepredikante.

Boonop kan ’n predikant deesdae nie sommer meer ’n beroep na enige dorp aanvaar nie. Dikwels is die predikant se vergoeding alleen nie genoeg om sy/haar gesin te onderhou nie, en verdien die predikant se eggenoot ’n baie groter salaris. Geleenthede vir die predikant en/of sy/haar eggenoot om op die platteland ’n addisionele inkomste te verdien, is ook uiters skaars. Daarby het die Afrikaanse skole op talle dorpe hul onderrigmedium na Engels verander en het onderwysstandaarde merkbaar agteruitgegaan, terwyl die munisipaliteit nie meer goeie mediese sorg, betroubare water en elektrisiteit en openbare dienste verseker nie.

Dit beteken eenvoudig dat gemeentes – veral gemeentes op die ontvolkende platteland – realisties moet wees oor die vooruitsigte om ’n eie, voltydse predikant te kry. Geen groot fondsinsamelingsveldtog of projek gaan die demografiese werklikhede verander nie. Elke gemeente moet verstaan wat die implikasies van ’n tekort aan predikante vir hulle is, en elke gemeente moet baie nugter bepaal wat die demografiese veranderings in hul omgewing vir hulle inhou.

Ek het in die 1990’s reeds die onafwendbare verloop van sake in die ring van Johannesburg beleef. Gemeentes kwyn dikwels nie weens hul eie foute nie, maar weens die veranderinge in die bevolkingsamestelling en die geleidelike verarming van die omgewing. Destyds in Johannesburg het krimpende gemeentes reeds al meer en meer van deeltydse predikante gebruik begin maak, terwyl kategese, jeug- en gemeenteaktiwiteite noodgedwonge afgeskaal is. Gemeentes het desperaat aan hul eie kerkgeboue en identiteit vasgekleef en samesmeltings verbete teengestaan. Maar die vaste lopende uitgawes verbonde aan ’n eie kerkgebou, ’n eie gemeente en ’n eie predikant wat vir 20 of 30 mense op ’n Sondag preek, het op ’n punt eenvoudig onvolhoubaar geword, en uiteindelik het al daardie gemeentes ontbind. En in die proses het talle predikante en ampsdraers persoonlik skade gely en onnodig emosionele letsels opgedoen.

Ons gaan nie die tekort aan predikante in die afsienbare toekoms omkeer nie. Daarom moet ons nuut dink sodat die Kerk in nuwe omstandighede die beste kan doen met die hulpbronne waaroor ons beskik.

Ek dink ons moet begin deur die predikante wat ons het, te waardeer en te ondersteun. Predikante ervaar dikwels die agteruitgang van hul gemeentes baie persoonlik. Hulle voel skuldig daaroor of raak diep neerslagtig. Hulle raak moedeloos omdat hulle hul uiterste bes doen, nuwe dinge inisieer en dikwels nie die nodige ondersteuning of waardering kry nie. Hulle begrawe bejaarde lidmate en sien geen jong, nuwe lidmate intrek nie. Hulle kyk magteloos toe hoe dinamiese lidmate wegtrek of ouers met jong kinders eerder na ’n ander gemeente of kerk met meer kinders of jeugaktiwiteite oorgaan. Hul gemeentes verminder noodgedwonge hul vergoeding en hulle staan verleë voor hul gesinne. Daarom moet elke kerkraad en gemeente daadwerklik omsien na hul predikant en dié se gesin – na hul fisiese, geestelike en finansiële welstand. Die kerkraad moet proaktief stappe doen om te verseker dat die predikant sonder bekommernis met sy/haar werk kan voortgaan.

Gemeentes moet egter ook grondig herbesin oor hul eie, selfstandige gemeentewees. Volgens die Kerkorde (Ord 2.3) moet enige aansoek vir die vorming van ’n nuwe gemeente onder meer aantoon hoeveel lidmate die nuwe gemeente sal hê, hoe die gemeente finansieel selfstandig sal kan wees en hoe lewensvatbaar die gemeente behoort te wees. Geld hierdie voorwaardes steeds in die gemeente en/of gemeenskap? Of is die lidmate nou te yl versprei oor ’n wye gebied, of te oud en te swak en te arm om daadwerklik uitvoering te gee aan die Kerk se missie – viering van die evangelie, gemeenskap van die gelowiges, getuienis teenoor die wêreld, en diens aan medegelowige en medemens?

In 1988 het die Hervormde Kerk gemiddeld 461 lidmate per predikant gehad; in 2021 was dit 201 lidmate per predikant. In 1988 het die Kerk 305 gemeentes gehad; in 2021 ongeveer 270. In 1988 het die Kerk 131 466 belydende lidmate gehad; in 2021 net 58 850. Die getal lidmate het dus met 55% afgeneem, maar die getal gemeentes net met 11%. Dit is tog voor die hand liggend dat ons dus die botter te dun op die brood smeer en dat die rieme wat al dunner gesny word, die een of ander tyd móét breek. Al minder lidmate moet verantwoordelikheid aanvaar vir die volle spektrum van gemeenteaktiwiteite, vir die onderhoud van die kerkgebou en administrasie van die gemeente, en vir die versorging van die predikant. Iewers raak dit gewoon onmoontlik!

Dít is waarom dit nou dwingend noodsaaklik raak dat gemeentes prakties uitvoering gee aan Besluit 1 van die 72ste AKV: om sinergie en konsolidasie met ander gemeentes te bewerkstellig. Doelgerigte, volgehoue gesprekke tussen gemeentes en ringe moet uitloop op samewerkingsooreenkomste en samesmeltings. Oortollige kerklike eiendomme moet verkoop word om van die vaste finansiële verpligtinge ontslae te raak. Kerklike werkruimtes moet groot genoeg wees om ’n predikant te onderhou en te verseker dat daar genoeg bekwame lidmate en ampsdraers is wat as kategete, skriba, kassier en ander funksionarisse kan dien.

My ma sou sê: Doen die een, en moet die ander nie nalaat nie! Koester en ondersteun ons krimpende getal predikante, en konsolideer ons gemeentes. Só kan ons weer ’n volhoubare balans skep tussen die getal lidmate, die getal gemeentes en die beskikbare getal predikante. Só maak ons dit weer vir ons gemeentes moontlik om lewenskragtig en dinamies met hul bediening voort te gaan. En, wie weet, so maak ons dit dalk weer aantreklik vir jong lidmate om teologie te studeer en predikante van die Kerk te word.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap