Ek weet almal is nou al by moeg verby om te hoor van die “nuwe normaal”, wat dit ook al mag beteken. Ja, dit is so dat ons wêreld radikaal verander het. ’n Mens kon jou nie indink dat ’n virus so ’n impak op die hele wêreld sou hê nie.

Sommer baie gou het ons al gehoor van die sogenaamde nuwe normaal. Maar wat is hierdie nuwe normaal?

Lees ek die koerante, dan sien ek nie baie “nuwe” goed nie, want ek lees elke dag van mense wat bedrog pleeg. Is die nuwe normaal dat hulle nou skandelik basies die kos uit die monde van die honger mense steel? Is dit die nuwe normaal?

Is die nuwe normaal die feit dat een van die mees gerespekteerde ekonome in ons land voorspel dat aan die einde van 2021 twee uit drie mense in ons land werkloos gaan wees? Is dit die nuwe normaal?

Is die nuwe normaal dat mense eerder in hul huise eredienste via die internet gaan meemaak? Is dit die nuwe normaal?

En as al hierdie goed die nuwe normaal is, hoe raak dit ons en watter invloed gaan dit op ons lewens hê?

Ek besef maar alte goed dat alle dinge nie meer gaan wees soos voor Maart 2020 nie; daarmee maak ek vrede en ek sal alles in my vermoë doen om daarby aan te pas. Tog glo ek dat daar baie dinge is wat nie gaan verander nie. En die belangrikste is dat die God wat ek aanbid, dieselfde God is wat ek voor Maart 2020 aanbid het.

Veronderstel alles wat voorspel word, word waar. Wat dan? Is ons dan sonder hoop en sonder raad? Ek glo nie, want soos ek reeds gesê het, ons God het nie verander nie.

En dit laat my dan dink aan die woorde van Psalm 121: Waar sal ons hulp vandaan kom?

Vir lank reeds in my lewe beteken Jeremia 29 vir my baie in tye van verandering en nood. En nie net hierdie bekende verse nie: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra (Jer 29: 11-13). Nee, juis die gedeelte wat hierdie bekende verse voorafgaan.

Die vals profete sê: Julle gaan gou by die huis terug wees. Maar die Here sê vir Jeremia om hulle mee te deel dat hulle 70 jaar lank in ballingskap gaan wees. Ons lees in verse 5-7: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.

Dalk moet ons ophou om ons te bekommer oor die sogenaamde nuwe normaal en dit eerder omhels. Want kom ons wees eerlik, enige persoon wat glo alles gaan dieselfde wees as voor Maart leef in ’n droom. Maar kom ons hou op om ons blind te staar teen die verandering en kom ons vertrou God ook in hierdie nuwe werklikheid, want die belange van hierdie nuwe werklikheid is ook ons belange. Ons leef hier, nie in die verlede nie.

So waar sal ons hulp vandaan kom?

Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ons hulp kom van die Here wat ook in hierdie nuwe werklikheid sy kerk in stand sal hou. Bly hoop, bly glo.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap