Dit mag dalk vergesog klink, maar hierdie artikel se opskrif gaan oor die ekonomie. In die laaste paar dae van Februarie vanjaar was daar drie belangrike gebeurtenisse, elk met ’n beduidende impak op die groter ekonomie.
Eerstens was daar die begrotingsrede van die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, voor die Parlement op 22 Februarie. Algemeen bekend as Die Begroting, bestaan hierdie deurslaggewende anker van die Suid-Afrikaanse ekonomie uit die begrotingsrede en ’n addisionele ses dokumente wat die detail van die begrotingsallokasies omskryf.
’n Dag later volg die aankondiging dat Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, van sy posisie onthef is op 23 Februarie na sy gewraakte TV-onderhoud waarin hy ’n aantal onbedekte beskuldigings gerig het teen persone wat steeds die mag het om in Eskom se finansies in te meng. De Ruyter het in Desember 2022 sy Raad kennis gegee van sy voorneme om te bedank en sou eers teen einde Maart sy kennisperiode voltooi het.
En nog ’n dag later, op 24 Februarie, volg die aankondiging dat Suid-Afrika genoteer is in die sogenaamde gryslys van die Financial Action Task Force, ’n internasionale waghond om geldwassery en die befondsing van terrorisme te bekamp. Suid-Afrika is sedert 2003 lid van hierdie invloedryke organisasie, wat onmiddellik wys dat dit bykans 20 jaar duur voordat die land tot die punt kom waar daadwerklike verandering moet plaasvind ten opsigte van wetgewing, of liewer gebrek aan wetgewing, om finansiële misdaad te bekamp.
Om alles te kroon, is 24 Februarie presies een jaar sedert Rusland vir Oekraïne ingeval het.
Is dit nie genoeg om enige mens totaal sinies te maak nie?
Toe Die Hervormer se redakteur, dr Johan van Staden, my versoek om oor die ekonomie te skryf, was ek aanvanklik so effe uit die veld geslaan. Ten spyte daarvan dat ek amper elke dag van my lewe oor die ekonomie skryf, het ek gewonder wat daar vanuit ’n analitiese perspektief is wat ek enigsins tot die omvattende beskikbare inligting oor die ekonomie kan byvoeg.
Derhalwe, in stede van nog ’n analitiese artikel wat net nog ’n mening toevoeg tot die honderde wat reeds geuiter is, was dit vir my duidelik dat die grootste behoefte by ons Kerk se lidmate handel oor sin. Sodra ons van sin praat, beweeg ons oor na die terrein van die emotiewe en die geestelike waar kil, saaklike feite oor die ekonomie slegs die voorhangsel is wat die koue realiteit van die persoonlike belewenis skei.
Aanvanklik was die gedagte om net die begroting te bespreek, maar dit sou ook maar net op ’n herhaling van ’n klomp ander menings neerkom. So tussendeur ’n ry koue koppies (vir koffie) en hope toebroodjies (vir die denke), word daar stelselmatig gewerk deur die kruiwavrag dokumente wat die Parlement moet oorweeg om uiteindelik, waarskynlik iewers in April, aan die einde van die debatsfase te kom en die begroting dan goed te keur.
Maar niemand het verwag nie dat daar binne drie opeenvolgende dae drie dinge sou gebeur wat elk so ’n groot impak op die ekonomie sou hê dat dit moeilik is om die topkandidaat aan te wys.
Begroting
Kyk ’n mens na die begroting, lyk dit ooglopend asof voorspoed op pad is, maar kyk ’n mens na die werklikheid op voetsoolvlak, dan is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie bloei na jarelange wanbestuur, en dat dit ver meer as ’n enkele begrotingsjaar gaan verg om die skip op koers te kry. Die geringe verlaging in die begrote tekort is so niksseggend, dit dien geen ander doel nie as om politieke punte te probeer wen. Dit maak feitlik geen verskil aan die regering se totale skuldlas nie en dit bly altyd ’n ope vraag of daar inderdaad by die begrote waardes gehou sal word.
Eskom
Wat betref die De Ruyter-sage, is dit ooglopend dat daar op groot pynlike tone getrap is. Of die uitvoerende hoof binne of buite sy mandaat opgetree het, sal net hy en die direkteure wat die aand van 23 Februarie by die uitgerekte vergadering teenwoordig was, weet. Vir die gewone landsburger, en dit sluit die privaatsektor in, is beurtkrag ’n realiteit waarmee elke Suid-Afrikaner letterlik elke dag konfronteer word.
Hoe groot of hoe klein die wanbestuur en diefstal by Eskom is, raak dan akademies. Die werklikheid waar ’n hospitaal siek mense se lewens probeer red, of waar hulpbehoewende of verswakte persone versorg moet word, is dan onderhewig aan die onaangename werklikheid van onderbroke, onbetroubare lewering van elektrisiteit.
Energie en die ekonomie kan nie van mekaar geskei word nie. Die beskikbaarheid van betroubare, bekostigbare elektrisiteit is ’n ekonomiese pilaar wat deur geen ander tegnologie vervang kan word nie. Oortuig dan ’n paar honderdduisend klein ondernemings, en etlike honderde groot maatskappye dat hul produksietye rondom die beskikbaarheid van krag geskeduleer moet word, en sien wat dit aan die ekonomie doen. Hiervan is ook die Minister van Finansies deeglik bewus, en gevolglik is die beraamde ekonomiese groei ook amptelik afgeskaal na ’n skamele 1,4% reële groei per jaar vir die volgende twee jaar.
*** En die gryslysnotering? Waar, dan, vind die gelowige innerlike krag vir die daaglikse lewe?
Gryslys
Om op die Financial Action Task Force se gryslys te beland, is nie ’n doodsvonnis nie, maar moet ook nie ligtelik opgeneem word nie. Ons is nou in die geselskap van minder aangename karakters in ons partuurgroep, soos Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Notering op die gryslys geskied nie lukraak nie, dit volg op ’n uitgerekte proses wat deels ’n oudit en deels monitering is. Suid-Afrika se 20-jaar-lidmaatskap van die Taakmag dui daarop dat die proses reeds etlike jare aan die gang is.
Dit is nie onmoontlik nie om iewers in die toekoms weer as “skoon” geklassifiseer te word, maar gryslysstatus kan slegs omgekeer word as daar daadwerklike aandag aan die tekortkominge gegee word. Dit behels hoofsaaklik die opgradering van bestaande wetgewing, die aanvulling van ontbrekende wetgewing, en die handhawing van streng internasionale rekenkundige standaarde.
Intussen beteken gryslyslidmaatskap dat daar noukeurige toesig is oor alle internasionale transaksies wat noodwendigerwys die koste verhoog om handel te dryf oor internasionale grense. Dit dra ook by tot groter burokratiese rompslomp, wat meebring dat streeksintegrasie bemoeilik en nie bevorder word nie. Alle transaksies wat nou Suid-Afrika inkom of verlaat, word geskrutineer, gevolglik het dit ook ’n negatiewe uitwerking op Suid-Afrika se onmiddellike bure en op sy grootste handelsvennote.
In Namibië, byvoorbeeld, was greylisting selde (nooit nie) op ons plaaslike regulatoriese horison, tot ’n maand gelede op 24 Februarie. Nou is dit skielik ’n belangrike beleidskwessie en word alle handelstransaksies aan verhoogde monitering onderwerp. Dit geld ook vir Suid-Afrika se ander bure in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.
Hierdie einde-Februarie-konflagrasie (Zusammenstoss op Duits dra eintlik die betekenis die beste oor) kan maklik ’n sosiale verlamming veroorsaak in geloofsgemeenskappe wat al vuisvoos geslaan is deur baie jare se afskeep.
Dit is hier waar die kerk ’n besondere groot rol te speel het. Alhoewel daadwerklike oplossings dalk buite die kader van hierdie artikel val, is dit nodig dat ons deur berading op gemeentelike vlak, en deur bemoediging op groepsvlak, geduring ons lidmate daaraan herinner dat ons in ons geskiedenis al baie groter struikelblokke oorkom het. Waak daarteen om, aan die een kant, op ’n domastrante manier aan te hou om jou kop teen die muur te stamp, en aan die ander kant te glo alles sal vanself regkom. Dit gaan nie.
Maar net soos Luther ’n baie duidelike onderskeid getref het tussen die probleme van die wêreldlike regering en die probleme van gelowiges in hul strewe om deel te wees van die koninkryk, net so moet ons as lidmate van ’n kerk met diep kulturele wortels, dit duidelik in ons verkondiging stel dat God in beheer is en dat gelowiges met volle vrymoedigheid kan bid vir beskerming en begeleiding in die daaglikse lewe.
Gegewe die stortvloed negatiewe nuus wat betref die ekonomie direk asook ander aspekte wat ’n groot invloed het op die ekonomie, is dit maklik om sinies te word. Die kopstampbeeld van hierbo kom dan ter sprake, maar daarteen moet ’n mens waak. Dit is die kerk se plig om, as verteenwoordiger van die koninkryk van God, aan te hou om altyd ’n boodskap van hoop te verkondig. Dit beteken dat ons in ons bediening terugval op die ankers van ons bestaan – geloof, hoop, liefde – en dat dit aktief gepreek sal word.
Verder dink ek nie ons moet skroom om lidmate aan die krag van gebed te herinner nie, en glo ek dat dit elke gelowige se plig is om vir die regering van die dag voorbidding te doen: Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ’n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom (1 Tim 2: 1-4, AFR2020).
Hierdie is nie sommer net ligtelike clichés nie, dit getuig myns insiens van ’n lewenshouding wat oopoog deur die lewe gaan, deeglik bewus van wêreldse verdrukking, maar nog steeds standvastig gerig op die geloofswaarhede wat ons deur eeue gedra het.
Om dan nou, ten slotte, die retoriese vraag van die opskrif te beantwoord: In Jesus Christus, natuurlik!
(Ds Daniel Steinmann is redakteur van Namibia Economist en leraar in Gemeente Windhoek)
