Hoe 25 Desember die datum vir Kersfees geword het, het al tot heelwat wanvoorstellings gelei. Kersfees word tradisioneel gevier as die dag wat Christene glo Jesus se geboortedag is.

Die Bybel, in besonder die Evangelies en Handelinge, noem geen datum, tyd of jaar waarin Jesus gebore is nie. Die Evangelie volgens Lukas vertel wél dat die skaapwagters een aand in die veld besig was om skape op te pas toe ’n engel die boodskap aan hulle gebring het dat die Christus gebore is (Luk 2: 8). Dié inskrywing mag dalk impliseer dat dit gedurende die lente en in die lamseisoen kon wees.

Die kans is skraal dat die skaapwagters gedurende Desembermaand, wanneer die Noordelike Halfrond winter het, gedurende die nag in die oop veld sou skape oppas. Die meeste teoloë sal baie versigtig wees om die nag waarna Lukas sou verwys as die geboortedag van Jesus, as ’n koue winternag te aanvaar. Die verskyning van die engel aan die skaapwagters moet nie só beskou word dat hulle bedoel het dat die Christus se geboorte so pas plaasgevind het nie. Die geboorte kon vroeër gebeur het, met die aankondiging wat eers in die lentetyd gebring kon wees. Die Bybel se inligting hieroor is baie vaag. Om die waarheid te sê, die indruk word eerder gewek dat die Bybelskrywers geen erg gehad het aan die datum van Jesus se geboorte nie.

Die kerkvaders oor die geboorte van Jesus

Buite-Bybelse getuienis oor die geboortedatum van Jesus is eweneens baie skraps.

In die geskrifte van die vroeë kerkvaders, soos Irenaeus (±130-200) en Tertullianus (±160-225), word geen verwysing na die geboortedatum van Jesus gemaak nie. Origenes van Alexandrië (±165-264) het selfs so ver gegaan om met die Romeinse gebruik van geboortedagvieringe die spot te dryf en dit as tipiese heidense praktyke af te maak. Dít gee vir ’n mens ’n aanduiding dat die geboorteviering van Jesus tot en met die tweede eeu glad nie aandag geniet het nie.

Dit is in skerp teenstelling met die aandag wat die vroeë kerk aan die laaste dae van Jesus gegee het. Al vier Evangelies bestee tot in fyn besonderhede aandag aan die kruisiging van Jesus. In die vroeë kerk was die leer oor die Paasfees baie meer ontwikkel as Kersfees. Die vroeë Christene het aan die viering van die Joodse Pasga ’n nuwe betekenis gegee en dié Fees as die tyd van die kruisiging van Jesus geïnterpreteer.

Die oudste geskrifte in die Nuwe Testament, die briewe van Paulus en Markus, maak géén melding van Jesus se geboorte nie. Die Evangelies volgens Matteus en Lukas verwys bolangs na die geboorte van Jesus, maar noem geen datum nie.

Tot in die tweede eeu na Christus bestaan daar géén aantekening van enige datum wat as die geboortedatum van Jesus beskou kan word nie – selfs nie eens in die vroeë apokriewe geskrifte nie. In die Evangelie oor die Kinderjare van Jesus van Tomas en die Proto-Evangelie van Jakobus word wél na die name van Jesus se ouers verwys, of hoe Hy opgevoed is en grootgeword het, maar daar is géén datum van sy geboorte nie.

Die eerste keer dat na Jesus se geboortedatum verwys word, is in ongeveer 200 nC toe ’n Christenleraar in Egipte, Clement van Alexandrië, ’n geboortedatum vir Jesus begin noem het. Interessant is dat hy nie na 25 Desember verwys het nie. Inteendeel, hy noem sommer ’n klomp datums. Hy skryf in sy geskrifte, hy hoor maar dat “hulle sê dat Jesus in die 28ste jaar van keiser Augustus, op die 25ste dag van die Egiptiese maand Pachon gebore is”. Volgens die Gregoriaanse kalender wat ons tans gebruik, is dit die 20ste Mei. Wie die hulle is na wie Clement verwys, is nie seker nie.

Hy skryf verder hy hoor ook dat ander mense weer praat van “die 16de jaar van keiser Tiberius”, en wel op die 25ste Phamenoth (21 Maart), terwyl nóg ander weer praat van die 24ste of 25ste Pharmuthi (21 April). Aan Clement van Alexandrië se geskrifte is dit duidelik dat daar geen sekerheid oor Jesus se geboortedatum bestaan het nie.

Die datum wat vir die geboorte van Jesus aanvaar is, en uiteindelik ook die datum vir Kersfees geword het, is eers in die vierde eeu vasgestel. Daar is twee datums. Die een datum wat deur die Westelike Romeinse Ryk vasgestel is, is 25 Desember. Die Oostelike Romeinse Ryk, wat Egipte en Klein-Asië ingesluit het, het Jesus se geboorte, en gevolglik Kersfees, op 6 Januarie gevier.

Die Donatiste se viering van Jesus se geboortedatum

Die oudste konkrete getuienis wat Jesus se geboortedatum as 25 Desember aantoon, kom van ’n Romeinse kalender uit die middel van die vierde eeu. Op dié kalender verskyn ’n lys met name van verskeie Christen-biskoppe en martelaars met die datums waarop hulle gesterf het. Die eerste datum bo-aan die lys lees: natus Christos in Betleem Judeae, wat beteken “Christus, wat gebore is in Betlehem van Judea”.

In ongeveer 400 nC het Augustinus van Hippo na ’n groep verwys wat bekend was as die Donatiste. Hulle het 25 Desember as Kersfees gevier, maar nie 6 Januarie as die dag van die Epifanie nie. Epifanie is die dag waarop die kerk aan haar sendingopdrag en die verkondiging van die evangelie aan die heidene aandag skenk. By dié geleentheid word die teks oor die wyse manne uit die Ooste se besoek aan Jesus (Matt 2: 1-12) gewoonlik behandel.

Die Donatiste het vir die eerste keer bekend geraak tydens die tyd van die Christenvervolging onder keiser Diocletianus in 312 nC. Dit was die enigste jaar waarin van hulle kennis geneem is. Daarna is nooit weer van hulle gehoor nie. Hulle het ’n ou Noord-Afrika Christelike tradisie uitgeleef.

Uit die Christelike tradisies blyk dit dus dat Christengroepies die geboorte van Jesus eers ongeveer 300 jaar nádat Hy gebore is, begin vier het. Daar bestaan twee tradisies oor hoe 25 Desember die datum vir Kersfees geword het.

Die persepsie van die Romeinse Sol Invictus

Die storie dat 25 Desember oorspronklik ’n heidense fees was, word baie keer geopper. In dié persepsie steek daar in werklikheid geen waarheid nie. Mense wat die Christelike godsdiens wil kritiseer, is egter lief daarvoor om dié teorie op te haal. Volgens hierdie tradisie het die Romeine laat in Desember, in die middel van hul winter, ’n fees bekend as die Saturnaliafees gehad. Dié Fees het die einde van die winter aangekondig en die draai van die son in die Noordelike Halfrond gevier.

Daar bestaan geen dokument wat die Fees van Saturnalia uiteensit of waarin die rituele verloop van die Fees volledig beskryf word nie. Dít wat ons vandag van die Fees weet, is vanuit verskillende geskrifte afgelei. Saturnus was die Romeinse god vir saaityd. Die son is nodig vir die plant van gewasse en daarom is die terugkeer van die son met die Fees van Saturnalia gevier. Uit die inhoud van hierdie geskrifte blyk dit dat die Fees met brassery, ’n gefuif en gespot met sosiale waardes gepaardgegaan het. Daar is aanduidings dat die feestyd deur wetteloosheid gekenmerk is. Gedurende dié tyd is alle regstelsels gestaak en kon mense hul vyande vrylik vervolg. Hoeveel waarheid in hierdie voorstelling bestaan, is nie seker nie.

Die Fees het aanvanklik op 17 Desember plaasgevind. Oor die jare heen het die tydperk van feesviering uitgebrei en het keisers elke keer ’n ekstra dag bygevoeg, totdat die Fees later van 17 tot 24 Desember gevier is.

Die aanbidding van die son het wyd voorgekom. In 274 nC het die Romeinse keiser, Aurelianus, nog ’n dag bygevoeg wat bekend geraak het as die Sol Invictus, die Onoorwinlike Son, om die geboorte van die nuwe son te vier.

Prof Andrew McGowan, teoloog aan die Universiteit van Yale in die Verenigde State van Amerika, reken dat die Romeinse datum vir die viering van Sol Invictus net toevallig met die Christene se datum vir Kersfees saamval. Die Christene wat onder die Romeinse vervolging gebuk gegaan het, sou baie moeilik aan so ’n Romeinse fees meegedoen het. Die vervolging van die Christene het in 303-312 nC onder keiser Diocletianus sy ergste vorm aangeneem. Die vervolging van die Christene is eers onder Konstantyn die Grote in 313 nC gestaak.

Dié verduideliking van Sol Invictus het in elk geval vir die eerste keer in die 12de eeu ontstaan, en dié teorie van die 18de tot 20ste eeu is as ’n stukkie geskiedenis van die vroeë Christendom ontwikkel. Die verklaring wat aangebied is om dié storie eg te laat klink, is dat die vroeë Christendom van heidense feeste gebruik gemaak het om die Christelike godsdiens vinnig deur die paganistiese wêreld versprei te kry.

Die waarheid is egter dat daar onder die vroeë Christelike skrywers en die kerk géén verwysing bestaan dat hulle die viering van die Sol Invictus eerbiedig het nie, wat nog te sê dit met die geboorte van Jesus in verband te bring.

Die tradisie van Paasfees

Die ware Christelike verduideliking oor hoe die vroeë Christene by 25 Desember as die geboortedag van Jesus uitgekom het, lê eintlik by die datum van die Paasfees toe Jesus gekruisig is.

Tertullianus van Kartage het in ongeveer 200 nC die datum van Jesus se kruisiging bereken. Hy het die datum aan die hand van die Evangelie volgens Johannes op die 14de Nisan vasgestel. Dié datum is die ekwivalent van 25 Maart in die Romeinse sonkalender.

In die Christelike godsdiens draai die kern van die teologie om die leer van verlossing. Jesus is volgens Tertullianus se berekening op 25 Maart gekruisig. Niemand ken die werklike datum van Jesus se geboorte nie. Die vroeë Christene het egter die verlossingsdag van 25 Maart, die dag waarop hulle geglo het Jesus gekruisig is, ook die dag gemaak waarop Maria vroeër deur toedoen van die Heilige Gees met Jesus swanger geraak het (Matt 1: 20).

Die saak is toe só bereken dat Jesus presies nege maande na 25 Maart, op 25 Desember, gebore is. Vir die vroeë kerk het dit nie werklik gegaan om ’n presiese dag waarop Jesus gebore is nie. Hulle het ’n teologie ontwerp wat om die sentrale boodskap van verlossing en genade gedraai het.

Augustinus (±399-419) was ook vertroud met die gedagte dat Maria op die datum van die verlossing swanger geraak het. In sy geskrif Aangaande die Triniteit skryf hy: Want daar word aanvaar dat Hy (Jesus) op die 25ste van Maart ontvang is, dieselfde datum waarop sy lyding later sou plaasvind. So het die baarmoeder van die Maagd waarin Hy ontvang is, en waar geen sterfling kon kom nie, met die nuwe graf verbind geraak waarin Hy weggelê is en waar nog geen mens in begrawe was nie. Volgens hierdie tradisie is Hy op 25 Desember gebore.

Interessant is dat die Christelike geloofstradisie in die Oostelike Kerk ’n soortgelyke beskouing handhaaf. Volgens die Griekse kalender wat húlle vir die berekening gebruik het, het Maria op 6 April met Jesus swanger geraak en is Hy ook presies nege maande later, op 6 Januarie, gebore.

Vir baie mense mag die idee dat die dag waarop Maria met Jesus swanger geraak het dieselfde dag is waarop Hy later gekruisig is, vreemd klink. Dié verbintenis wat die vroeë Christene gemaak het, vertel iets meer van die destydse Christene se begrip van verlossing en hoe hulle die dood en geboorte as verlossingsgebeure beskou en verbind het.

Die eerste aangetekende datum dat Kersfees op 25 Desember gevier is, is 336 nC gedurende die regering van keiser Konstantyn die Grote. Hy was die eerste keiser in die Romeinse Ryk wat die Christelike godsdiens bely het. Pous Julius I het later in 350 nC bepaal dat Kersfees op 25 Desember gevier moet word. Dié datum is egter eers in 375 nC amptelik verklaar as die dag waarop Jesus se geboorte gevier moet word.

Navorsers oor die onderwerp is baie skepties oor die persepsie dat die paganistiese fees van die Romeine, die Sol Invictus, enigsins ’n rol gespeel het in die viering van die geboorte van Jesus. Hulle is daarvan oortuig dat die agtergrond vir die viering daarvan in die Judaïsme gesoek moet word.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap