Daar gaan al hoe meer stemme op dat aardverwarming nie ons skuld is nie. Daardie stemme sluit selfs Nobelpryswenners in. Aardverwarming is ’n gegewe, maar wat betwis word, is of ons industrieë regtig kweekhuisgasse afgee wat verwarming van die planeet veroorsaak.

Die idee dat dit wel die geval is, het die wêreld se koppe laat draai na groen ekonomie. Groen ekonomie het ’n heilsame weersin aan vuil industrie onder ons laat posvat. Selfs die kerk praat gretig saam in ’n groen hervorming, onder die vaandel van goeie rentmeesterskap van die skepping. Ons wat gelowig geleer het om skuld te aanvaar vir al wat ’n euwel is, bely dat dit sondig was om die skepping soos ’n verbruikersitem uit te buit. Maar ons moet ons ook gelowig versigtig van die groen ekonomie onderskei.

Die groen beweging is oor die planeet besorg, en oor die planeet se biodiversiteit, asof die aarde se klimaat die aarde self, en die lewe daarop, gaan uitwis. Dit het ’n magtige dryfveer geword en het tot op voetsoolvlak inslag gevind. Hoe dan anders? Die planeet is immers al wat ons het. Dit het innovering gebring en nuwe tegnologie laat ontstaan, ten goede. En die groen ekonomie het baie mense sommer baie ryk gemaak, en nog meer mense baie armer. Nie dat rykdom sondig is nie, maar gierigheid is. Selfsug ook.

Die media weet dit. Daarom dryf die media die idee dat ons self aan die klimaat verskil kan maak, dat om onverskillig met die eie aandeel aan klimaatsverandering om te gaan, verfoeilik is. So word dit mettergaande makliker om mense wat hul werk in steenkoolmyne verloor, te oortuig dit is in die groter belang dat hulle nie meer met hul arbeid hul gesinne kan versorg nie.

In wese sondig, is dit juis omdat die groen ideologie nie om ander mense draai nie, dat ons inkoop, want die propaganda het dit reggekry om my te maak glo dit raak my, dit raak my hier waar ek leef. Mense doer ver raak ons mos nie, is nie regstreeks in ons belang nie. Wat mense daar oorkom, is dalk ’n nuusberig om van kennis te neem werd, maar verg nie optrede van ons kant af nie. Dit raak my net as ’n woeste storm my tuin verniel, die wind my dak afwaai, vloede infrastruktuur beskadig, vuur landerye verwoes, droogte oeste laat misluk, of sommer net as my lugsorg my nie meer kan koel hou nie weens die versengende somerhitte.

Dit is die probleem met die groen ekonomie. Soos ’n Kersboompie met tinsel versier, vol belofte van lig en verlossing, is die groen beweging getooi in vlytaal, maar wreed soos die natuur wreed is. Die groen agenda, met al die gepraat oor die heiligheid van planeet aarde, is nie daarop ingestel om vir mense beter lewens te gee nie. Dit gee trouens min vir mense om. Die groen ideologie weet van beter. Sou ons nog so gretig meegedoen het aan die groen ekonomie as dit net gegaan het oor die beter lewenskwaliteit van die mensdom? Wil ons regtig mense uit steenkoolmyne uithaal want die werksomstandighede is sleg daar? Ek ry hiervandaan Hoëveld toe en vergaap my aan die wit hemel en die bruin wolk wat oor Gauteng hang, en ek wonder: Hoe bly mense nog hier? Hoe bly hierdie mense gesond? Dat die besoedeling wat ons die lug instuur, by die tonnemaat gemeet kan word, is ’n soberende gedagte. Maar hoe dit mense seermaak, is nie ons prioriteit nie.

Bildad, een van Job se pelle, kom vir Job oor die kole haal oor Job beweer hy het niks gedoen wat verdien hoe sleg God hom behandel nie. Van Job weet ons: Job het reg. Maar Bildad sê daar sit goeie navorsing agter dat oewergras nie gedy waar daar nie water is nie. Hy gebruik die papierindustrie as voorbeeld: Sal papirus hoog groei waar daar nie ’n moeras is nie? … Dit is nog besig om te groei, is nog nie gesny nie, dan verwelk dit al – voor al die ander grasse. So staan dit in Job 8 (AFR2020). So, sê Bildad, loop die paaie van almal wat van God vergeet: Die hoop van die godloses gaan tot niet – hy wat sy hoop vestig op dun spinnerakdrade, wat in ’n spinnerak sy vertroue stel. Met ander woorde: Jy het van God vergeet, Job.

En hier is ons ook: Ons reken op die behoud van biodiversiteit, van spinnekopspesies by wyse van spreke, om die aarde te red. Oor mense is ons min gespin.

Maar dit is mense wat eintlik gered moet word. Mense kan nie meer so lewe nie. Dit is wanneer jy so van mense vergeet, dat jy weet God is lankal vergete. Dan wil jy jou heil in jou eie oplossings vind, en verbeel jy jou mos jy kan manalleen die wêreld red. En tog bevuil ons ons eie onmiddellike omgewing só, dat dit later nie meer geskik is vir mense om in te woon of te werk nie.

Maar natuurlik moet ons die skepping beter versorg; ons het nie klimaatsverandering nodig om ons dit te leer nie. Mense het die tuin van Eden al vir hulself onleefbaar gemaak, en mense maak vir mekaar nou nog die aarde ’n ondraaglike plek. En helaas nie net deur klimaat nie. Doen gerus jou deel om aardverwarming te bekamp, dit is steeds nodig. Dog, doen dit om die regte redes: Gaan maak jy vir mense die wêreld ’n draagliker plek.

Pas lewe op.

Onthou: Mense maak saak, want God gee vir mense om.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap