Dr Johan van Staden

’n Volbank van die hooggeregshof in Pretoria het op 8 Maart ’n eenparige uitspraak gelewer ten gunste van Laurie Gaum en drie ander (wat ’n groep van 11 lidmate verteenwoordig) teen die NG Kerk.

Om kommentaar in Die Hervormer te lewer op ’n ander kerk se hantering van die gay-kwessie sal voorbarig en onvanpas wees. Die NHKA het weliswaar in 2016 ’n progressiewe besluit oor dieselfde saak geneem – die woord selibaat hoort immers net so min in ons amptelike kerklike woordeskat as bieghokkie en aflaatbrief. Maar die NHKA se besluit is nog nie regtig wyd op grondvlak getoets nie. Kerklike besluite, net soos hofuitsprake, verander nie noodwendig mense se harte nie. Die NHKA erken wel selfdegeslagverbintenisse, maar die Kerk se predikante is tans nie by magte om te registreer om sodanige verbintenisse kragtens die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006) te kan bevestig nie. Die Kerk stap steeds die pad van besinning en dialoog – en die hoop beskaam nie dat die hele kwessie van seksuele oriëntasie uiteindelik heeltemal van kerklike agendas sal verdwyn. 

Die uitspraak in die Gaum-saak bevat wel belangrike algemene beginsels waarvan die NHKA, en alle ander kerke, gerus kennis kan neem. Dit is nie nuwe sake nie en nie verrassend nie – die hof het net weer bekende beginsels bevestig ter wille van regsekerheid.

Die eerste saak waarop die uitspraak fokus, is die noodsaaklikheid dat kerke nie hul eie interne prosedures en reëls moet verontagsaam nie – en dat kerkvergaderings in die neem van besluite nie hul bevoegdhede moet oorskry nie.

In die NHKA is dit nie ongewoon nie om te hoor hoe daar met groot stelligheid verklaar word: Die Kerkorde is nie hier by ons nodig nie, want ons vertrou mekaar; of: Ons doen dinge op ons eie manier, en dit werk vir ons. Maar soos klokslag wanneer verhoudings begin versuur, stof daardie einste kerkrade en individue flink hul (dikwels verouderde) Kerkordes af in ’n poging om hul eie belange te beskerm of om die teenparty oor die kole mee te haal. Om egter terugwerkend gebreke in prosedures te herstel of te ontkom aan die gevolge van slordige strukture en besluitnemingsprosesse, is meestal futiel. Groot skade word dan in die proses gely.

Die uitspraak is egter nie beperk tot prosedurele kwessies nie. Op versoek van die partye het die hof hom ook uitgespreek oor die toepaslike substantiewe (grondwetlike) beginsels. Die uitspraak bevestig dat die howe huiwerig is om in te meng in kerke se geloofs- en belydeniskwessies. Die reg op godsdiensvryheid is egter nie absoluut nie, en ook nie ’n hoër reg as ander fundamentele regte nie. Om die reg op godsdiensvryheid in te span om ander basiese regte van sekere mense te skend of hul vryhede te beperk, deug nie. Indien geloofsinstellings aanspraak wil maak op outonomie en selfregulering met minimum inmenging deur die owerheid, sal hulle te alle tye binne die grense van die Grondwet van Suid-Afrika moet bly. 

Met verwysing na ’n beslissing van die konstitusionele hof herinner die uitspraak ons dat die Grondwet ’n radikale breuk verteenwoordig met ’n verlede gebaseer op onverdraagsaamheid en uitsluiting, en tot diens is van ’n reis na ’n aanvaarding van die behoefte om ’n samelewing te ontwikkel wat gebaseer is op gelykheid en respek vir almal deur almal. Kerke moet derhalwe toesien dat alle lidmate die volle omvang van regte en vryhede binne die betrokke kerk geniet (sien artikel 9[2] van die Grondwet). Die Grondwet se kernwaardes van gelykheid, vryheid en menswaardigheid behoort deur alle vrywillige verenigings weerspieël te word – en dit sluit kerke in.

Die bespreking in paragrawe 58-60 van die uitspraak rakende die prosedures by die amendering, hersiening en vervanging van vorige besluite van kerkvergaderings, is ewe-eens iets waarvan veral die Algemene Kerkvergadering wat later vanjaar plaasvind, kennis behoort te neem.

(Dr Johan van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap