Wanneer jy deur die dood gekonfronteer word, kry die lewe nuwe betekenis. Dit is wat ek weer die afgelope tyd geleer het.

Almal van ons vrees die dag wanneer ons iemand in ons nabye vriendekring aan die dood moet afstaan. Wanneer dit gebeur, leef ’n mens in die ongelooflike skok, maar ook met die gewaarwording dat die lewe kosbaar is.

Met my vriendekring het dit onlangs gebeur toe ’n jarelange vriend en kollega wat vir drie dekades my lewe gedeel het, heeltemal te jonk oorlede is. Sy dood het my weer die vrae na die lewe laat vra. Ek het gewonder, indien ek net 10 000 woorde sou oorhê, wat sou ek sê? Sou ek my laaste woorde gebruik het om almal vir wie ek kwaad is, vir oulaas op hul plek te sit? Of sou ek eerder my woorde gebruik om liefde te deel en heling te bring?

Gekonfronteer deur hierdie werklikheid, het ek weer na die lewe, mý lewe gekyk, weer geweeg en voorraad opgeneem.

My vriend wat dood is, het onlangs ’n preek, soos ons gewoonte was, met my bespreek. Die tema was die spore wat ons nalaat. Hoe lyk die spore wat ons vir ons familie en vriende nalaat? Is dit navolgenswaardige spore, spore wat tot die lewe lei?

Sy preek was treffend, hy het Galasiërs 5 gebruik. Hy het gesê dat die maklike uitweg in die lewe is om die dinge wat in verse 19-21 staan, te vermy: Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Hierdie is die maklike uitweg, maar hoe lyk die spore wat jy nalaat? Lei dit tot die lewe?

Die moeiliker opsie is om God toe te laat om jou te gebruik om die vrug van die Gees deel te maak van jou elke dag se bestaan. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Gal 5: 22-23).

Dit bring my terug by die vraag: As jy weet jy het net 10 000 woorde, wat sal dit wees?

Die lewe het my geleer dat ek niks aan gister kan verander nie. Dit het gebeur, dit is verby. As ek gister of êrens in die verlede iemand te na gekom het, moet ek dit regmaak. Oor môre het ek ook nie veel beheer nie, daar is te veel veranderlikes in die lewe. Waaroor ek beheer het, is hierdie oomblik waarin ek nou is.

Mag almal van ons weer mooi dink oor wat ons sê en hoe ons optree. Mag ons elke oomblik uitkoop om lewe te gee en lewe te spreek. Mag ons elke oomblik daarna streef om die vrug van die Gees, met God se genade en die Gees se leiding, te leef, te praat, te wees.

Gryp die oomblik aan, solank jy die kans het.

Laat my toe om af te sluit met die woorde van Koos du Plessis se gebed. Terwyl u dit lees, dink oor die spore wat u nalaat:

Laat my nooit U grond verlaat nie,
laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
eindelik nietig word vir my.

Elke afdraaipaadjie ken ek –
elke keer het ek verdwaal.
Maar elke keer het U my iewers kom haal.
Maak dit, Heer, die laaste maal.

Elke dag is ’n gedagte;
elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem
net ’n skadu teen die muur.

Wat ek is, is net genade;
wat ek het, is net geleen.
Eindelik smag ek na U waters van rus –
lei my, Heer, vanaand daarheen.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap