Die volk wat in die donker wandel, oor hulle het ’n lig geskyn… (Gesang 330: 1)
Dis reeds ver gevorder in die nuwe jaar. My kinders se skoolsillabus daal soos ’n donker reënwolk oor ons huis neer. Die werk is nie soos ek dit onthou nie, en my beste pogings het al ’n keer of wat geëindig met: Gaan vra jou pa. Maar tussen die baie-vreemd en lank-terug-al-vergeet is daar enkele ligpunte, soos homonieme. Woorde wat eenders gespel en uitgespreek word, terwyl die betekenisse daarvan verskil. Woorde soos die ken aan my gesig en die ken van my gesig.
Die Desembervakansie het so vinnig gekom, en nog vinniger gegaan. Dis vir my ’n ongelooflike mooi tyd – die klanke, die tradisies, die gewoontes. Ons ken die ritme van die liturgiese inkleding. Skenk ons in hierdie dae ’n ware Christusfees.
In die Kerk verlede jaar is ’n intense pad gestap om die millenniërgenerasie van naderby te leer ken. Die CNBC-nuusagentskap in Amerika het in ’n artikel van 21 Julie 2022 genoem dat 86% van millenniërs meer sal spandeer tydens die Kerstydperk as wat hulle beplan het. Daarmee saam het ’n studie deur Pew Research Center reeds in 2015 bevind dat die Kersseisoen byvoorbeeld vir hierdie generasie eerder ’n kulturele as ’n godsdienstige geleentheid is. ’n Tydperk vir samesyn, vir mooi versierde partytjies waar moeite met die geleentheid en mekaar gedoen word.
In Suid-Afrika lyk die situasie ook nie veel anders nie. Ons raak ook meegevoer deur die mooi van dié tydperk en die beplanning van saam met wie ons die tyd sal vier, waarop ons ons kosbare munte sal spandeer en watter kleurskakering ons Kerstafel sal wees.
Die ken van jou gesig, en om jou gesig te ken. Eenders en tog verskillend.
God stuur sy Seun op aarde neer om mens te word, die Hemelheer. Hy kom ons van ons skuld bevry en vir sy feesmaal voorberei (Ges 360: 2).
As een van hierdie generasie se verteenwoordigers besef ek dié waarheid as ek aan my eie Kerstafel en Kersgeselskap terugdink. Die mooi vir die oog, die kosbaarheid vir die gemoed. Die deel in die vreugde van die kinders. Dis die vryf oor ’n kennebak wat gemoedelikheid, tuiste, behoort en gemeenskaplikheid versinnebeeld.
Maar om in totale respek “sy gesig te ken”, is om in die krip ’n kindjie te vind. Hy is Koning, dis ’n wonder wat ontvou. Hy is broos maar tog verhewe, bring vir sondaars hoop en lewe. Hul gaan t’rug, gaan praat oor Hom (Ges 363: 2).
Want wie is hierdie Kind? Wie is God vir jou? Wie is Hy as die leë kosbakke teruggebêre word, as die geskenke vergete lê? As die huis weer stil word? Wanneer jy moet erken dat jy ook skuldig was aan ’n kulturele fees waar jou beursie meer as jou dade gespreek het? Watter plek gee ons aan Hom, nie wanneer die res van die wêreld saam feesvier nie, maar wanneer die lewe aan die gebeur is? Wanneer ons hier in die nuwe jaar weer verstik in die stofwolke van die lewe?
Om “sy gesig te ken”, om saam met die herders te getuig en in dankbaarheid oor ons Verlosser te bly juig. Immanuel! (Ges 366: 3). God by ons. God is by my. Nie toegedraai in geskenkpapier nie, maar sigbaar in die oggendson. Nie in die geur van heerlike kos nie, maar in die reuk van reën op ’n somermiddag. Nie net in die samesyn van mense nie, maar daar waar ek alleen voor sy troon buig. Nie net in die Kerstydperk nie, maar ook nou, hier.
Want al was ons nie daar in Betlehem by herders en by eng’lesang, ons was ook nie in Nasaret en ken U nie as timmerman; ons kon nie sien nie, maar ons glo… (Ges 262: 1). Want ons ken maar gedeeltelik … maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees (1 Kor 13: 9-10).
Nou kan ek sterf in vrede – ek het my Heer gesien! (Ges 354: 4).