Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie. (Prediker 11: 4)
Lees Prediker 11: 1-6
Om deur ’n dagboek te blaai, bring verskeie emosies. Dit herinner jou aan tyd wat kom en gaan. Die inskrywings in jou dagboek versinnebeeld die jare wat verby is en die nuwe jaar se beplanning wat voorlê. Wat laasjaar gebeur het, herinner jou aan goeie en minder goeie tye, en jy kan die pad sien wat die Here met jou geloop het.
Wanneer jy vir ’n paar oomblikke aan die begin van ’n nuwe jaar tot stilstand kom, is dit nodig om ’n visie vir die toekoms te hê. As jy ’n visie het, het jy hoop, want ’n visie dring jou altyd vorentoe, met verwagting die toekoms in.
Geleenthede, doelwitte en drome wat kom en jou soms verbygaan, laat jou soms verlang na hoop vir ’n beter toekoms en moontlike uitkoms. Die begin van ’n nuwe jaar is juis op ’n besondere manier God se uitnodiging om Hom te volg op ’n pad om jouself as’t ware weerloos in sy hande te plaas. Om te besef dat God jou op vreemde, onbekende en ongemaklike paaie buite jou verwysings of buite jou gemaksones en selfs voorkeure kan plaas. Miskien is hierdie nuwe jaar juis ’n goeie tyd om te dink oor die geleenthede, doelwitte en drome wat jy visualiseer. Lê jou sekuriteit werklik in jou geleenthede, doelwitte en drome wat rondom jou uitgepak is, of in die hand van God?
Prediker 11: 1-6 moedig gelowiges aan om alle moontlike geleenthede te benut. Die teks praat onder andere in verse 4 en 6 van ’n saaiboer wat by die punt is waar hy moet besluit of dit hom gaan betaal om te saai of nie. Hy kan elke dag die wind en die wolke dophou en wag vir die perfekte weer en die ideale omstandighede, maar gaan daardeur moontlik nooit aan die saai kom nie. Hierdie boer kan vergeet om bó die wind en die wolke uit te kyk en om God ook in berekening te bring. God, wat teen alle berekenings en vooruitskouings in, wind en wolke so beheer dat dit enige oomblik kan verander, bied sekuriteit. Wie God buite rekening laat, gaan egter die saaityd laat verbygaan, kanse verspeel en geleenthede deur die vingers laat glip. Wie wel met God rekening hou, gaan geleenthede en die kanse wat hulle in die lewe gegee word, aangryp. Hulle doen dit nie halfhartig nie, hulle pak dit met entoesiasme aan omdat hulle nie teen wind en wolke vaskyk nie, maar in vertroue op God leef.
In hierdie gebroke en onvolmaakte wêreld waarin ons lewe, sal daar altyd faktore wees wat nie ideaal of perfek is nie, en jy sal in hierdie wêreld altyd dinge sien of voor-sien wat jou geleenthede, doelwitte en drome in die wiele kan ry. Jy gaan nooit in ’n stukkende wêreld die perfekte omstandighede kry nie, en as jy wag vir die ideale omstandighede, gaan jy nooit aan die gang kom en voluit tot eer van God kan leef nie. Ons moet egter verder kyk as wind en wolke wat dalk nie belowend lyk nie, en God vertrou en nooit moed opgee nie.
God se uitnodiging staan vas om Hom te volg op ’n pad om jouself as’t ware volledig in sy hande te plaas om van vroeg in die môre tot laat in die middag met jou saaiwerk besig te wees, al is omstandighede nie ideaal of perfek nie. God is bokant die wind en wolke, en jou geleenthede, doelwitte en drome, wat in die nuwe jaar rondom jou uitgepak is, is in die hand van God. Besef dat God altyd in beheer is.