Gemeente van ons Here, Jesus Christus
God, die Vader, verlos die wêreld deur die dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus. Deur die Heilige Gees wek God geloof in mense en rus Hy hulle toe om die evangelie te verkondig en diensknegte in die wêreld te wees. Hiervoor rus die Gees alle gelowiges toe met gawes ooreenkomstig die dienswerk waarvoor hulle geroep is. Hy roep ook sekere gelowiges, soos predikante, om in besondere diens te staan.
Jesus Christus dien as voorbeeld vir die gesindheid waarmee gelowiges hulle dienswerk verrig. Predikante verrig hulle taak nederig en met liefdevolle toewyding.
Predikante verkondig God se Woord in die wêreld deur die prediking, die bediening van sakramente, gebed en die pastorale versorging van mense.
Hierdie verkondiging rus gelowiges toe, versterk hulle geloof en begelei hulle om tot eer van God te leef.
Ten einde so diensbaar te wees, is dit noodsaaklik dat predikante in ‘n verhouding met God moet leef. Hulle moet die Bybel nougeset bestudeer en
genoeg tyd inruim vir gebed en besinning. Elke gemeente het die verantwoordelikheid om toe te sien dat die predikante geleentheid het vir geestelike groei en geestelike versorging. Net so moet hulle die tyd en ruimte ontvang om aandag te gee aan persoonlike verhoudings en liggaamlike rus.
Ten slotte, predikante is deel van die kerk van die Here en moet daar-om as lig vir die wêreld hulle dienswerk verrig. In hulle lof en aanbid-ding, hulle danksegging en onderlinge gemeenskap, hulle barmhartigheid en verkondiging van die Woord van die Here, laat hulle hulle lig in die wêreld skyn.
Geliefde suster/broer, N, u is na hierdie gemeente beroep om die dienswerk soos die Ouderlingevergadering dit saam met u bepaal, te doen. Voordat u as dienaar van die Woord bevestig word, moet u eerlik op die volgende vrae antwoord:
OF
Geliefde suster/broer, N, u is deur die (gemeente/naam van meerdere vergadering) benoem om dienswerk soos met u ooreengekom, te ver-rig. Voordat u as dienaar van die Woord bevestig word, moet u eerlik op die volgende vrae antwoord:
- Ten eerste: Glo u dat u wettig deur die gemeente/meerdere vergadering en daarom deur God self tot hierdie diens geroep is?
- Ten tweede: Glo u dat die Ou en Nuwe Testament die enigste Woord van God en die volkome boodskap van verlossing is, en verwerp u alles wat daarmee in stryd is?
- Ten derde: Beloof u om hierdie werk getrou en met oorgawe te doen en te leef soos God in sy Woord van u verwag? Sal u die Christelike vermaning en dissipline van die Kerk aanvaar indien u die werk nie doen soos u beloof het nie?
Hierop moet sy/hy antwoord: Ja.
(Al die teenwoordige dienaars van die Woord (uit al die kerke wat op dieselfde belydenisgrondslag as die NHKA staan) word nou na vore geroep om deel te neem aan die handoplegging of die gee van die regter-hand van gemeenskap. Handoplegging(1) vind plaas as iemand georden word as predikant. Vir hulle wat al voorheen gedien het, word die regterhand van gemeenskap(2) gegee. Tydens die ordening of die gee van die regterhand van gemeenskap word die volgende gesê:)
God, ons hemelse Vader wat u tot hierdie diens geroep het, sal u deur sy Gees toerus, u versterk en u so in u bediening lei dat u daarin verantwoordelik en vrugbaar kan werk. So sal u deur u bediening die Naam van God groot maak en sal God deur u die heerskappy van sy Seun, Jesus Christus, in die wêreld uitbrei. Amen.
(Daarna moet die bevestigende predikant van die kansel af die bevestigde dienaar en die hele gemeente soos volg toespreek:)
Geliefde suster/broer en mededienaar in Christus: U moet God liefhê en op Hom vertrou. Verryk u geloofslewe voortdurend en bid God om u daarin te help. Sien om na u self, u huisgesin en almal wat die Here onder u sorg geplaas het. Doen u werk getrou en wees ‘n voorbeeld vir die hele gemeente wat Jesus Christus deur sy bloed verkry het en wat deur die Heilige Gees onder u sorg gestel is.
En u, onder wie hy/sy sy/haar dienswerk verrig, neem u predikant met ‘n oop hart aan. Behandel haar/hom met liefde en respek want God gebruik haar/hom om u na Hom toe te lei. Bid gedurig vir haar/hom en werk saam om die evangelie in die wêreld uit te dra.
Omdat ons nie self hiertoe in staat is nie, laat ons tot God bid:
Barmhartige God en Vader, ons dank U dat U self U kerk in stand hou. Dankie dat U vir hierdie gemeente ‘n predikant gegee het. Gee aan haar/hom die genade, die krag en die insig om haar/sy werk in die gemeente en die wêreld met oorgawe en na die beste van haar/sy vermoë te doen. Voorsien ook genadiglik elke dag in haar/sy en haar/sy gesin se behoeftes sodat hulle hulle werk sonder belemmering kan doen. Gee vir U gemeente die genade om haar/hom te erken as U gestuurde en om met haar/hom saam te werk tot U eer. Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Here. Amen.
OF
Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Here, wat ons geleer het om só te bid:
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; (10) laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. (11) Gee ons vandag ons daaglikse brood; (12) en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; (13) en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. (14) (Aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.) Amen. (Matteus 6:9-14)
OF
Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Here, wat ons geleer het om só te bid:
Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. (3) Gee ons elke dag ons daaglikse brood; (4) en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.” Amen. (Lukas 11:2-4)
(1) Handoplegging. Die predikant wat georden word kniel. Die teenwoordige dienaars van die Woord
staan voor of om die predikant wat georden word. Hy/ hulle plaas hulle regterhand(e) op die kop van
die predikant wat georden word. Indien daar meer as een predikant is wat aan die handoplegging
deel-neem, plaas hulle hulle hande opmekaar.
(2) Regterhand van gemeenskap. Die teenwoordige predikante en die predikant wat bevestig word,
skud blad.