Filippense 1: 9-10
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.
Wanneer ons belangrike besluite neem, is dit belangrik om die regte inligting byderhand te hê en die nodige advies van mense met kundigheid in te win. In die gemeente in Filippi was daar onderlinge spanning en onenigheid omdat gelowiges se bronne van informasie en hul interpretasie daarvan verskil het. As gevolg daarvan het hul gesprekke dooiepunte bereik en het hul verhoudinge skade gelei.
Hierdie situasie kom vandag nog gereeld onder gelowiges, families en vriende voor wanneer ons met mekaar se verskille te doen kry. Vandag se teks herinner ons aan ’n belangrike waarheid: Ons standpunte en opinies wat op informasie gegrond is, is nie die bepalende faktor wanneer dit by besluitneming kom nie; die liefde van Christus is wel. Dit sluit geen mens uit nie en bring ons op dieselfde plek om nuwe oplossings te verken. Die oproep is nie dat ons kennis oor ’n saak sal verdiep nie, maar dat ons God se liefde kans sal gee om in ons ’n begrip en fyn aanvoeling te kweek vir dit wat werklik saak maak.
Wat staan in jou pad dat die Here jou in hierdie nuwe jaar so van binne kan kom aanraak en verander? Hoe is die Here se liefde besig om in ingewikkelde kwessies in jou lewe deur te breek?
Gebed
Here, laat die geur van u teenwoordigheid versprei oral waar ons gaan. Versadig ons gees met u liefde en lig; deurdring ons lewe so volkome met die glans van u lig dat dié wat met ons in aanraking kom, bewus mag word van die warmte en heil van u teenwoordigheid wat ons na dieper insigte lei. Help ons, Here om te midde van die spanning van soveel opinies en oortuigings vandag te onderskei tussen dinge wat in ons lewe afspeel en waarop dit werklik neerkom. Dankie dat U dinge wat kompleks en moeilik is, op eenvoudige maniere vir ons kom oopbreek. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
