Efesiërs 3: 14-21
In die Bybel is daar heelwat gedeeltes wat ’n mens se hartsnare roer wanneer jy dit lees. Paulus se gebed vir die gemeente van Efese is so ’n gedeelte. Dit is nie net ’n gebed vir Efese nie, uiteindelik is dit ’n gebed vir die hele kerk oor die wêreld – ook vir die deel van die kerk wat reeds die ewigheid betree het. In hierdie gebed kry ons die rede vir die bestaan van die kerk. Die Vader is die begin van alles en almal. Deur sy Gees, uit die rykdom van sy heerlikheid, maak Hy ons van binne af sterk. Deur geloof woon sy Seun, Jesus Christus, in ons harte. En hier in die binneste van ons binneste, skep God Drie-enig so die fondament waarop ons ons lewe en die kerk kan bou.
Paulus stel dit so: dat ons in die liefde gewortel en gegrondves is. Dit moet die fondament, die grond, die groeikrag, die bron van ons elkeen se lewe wees. Hierdie liefde is die kragbron wat God in elkeen plaas wat ons innerlik sterk maak. Liefde wat wyd, ver, hoog en diep strek. Liefde wat die verstand te bowe gaan. Liefde wat die volheid van God in ons bring. Het jy al probeer om dit te verstaan? Dalk is dit te wyd, te ver, te hoog en te diep vir ons. Dit gaan ons verstand te bowe!
Dit is deur hierdie liefde as kragbron in elkeen van ons dat God in staat is om oneindig meer te doen as wat ons kan hoop of dink. Ja, God, nie ons nie. Daarom kom al die eer deur al die geslagte heen tot ewigheid aan God toe. Ons is in sy liefde geplant!
Gebed
Here, mag my lewe ook in u liefde geplant wees sodat ek waarlik kan lewe. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid
