2 Konings 5: 1-15; Johannes 4: 43-54
In Jesus Christus se openbare optrede word dit algaande duideliker dat Hy God met ons is. Hy het mag oor lewe, siekte en dood.
Ons hoor die pa se egte, menslike nood en smeekgebed in Johannes 4: Here, kom tog voordat my kindjie sterwe. Jesus verrig die wonder oor ’n afstand. Hy spreek bloot ’n woord. Miskien lê die grootste wonder in vers 50 (AFR2020) opgesluit: Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. Hierdie regeringsamptenaar neem Jesus op sy woord! Dit is merkwaardig. Nie eens ’n bottel medisyne word aan hom gegee nie; ook nie ’n enkele geneeskundige aanwysing nie. Al wat hy het, is ’n enkele sin van Jesus. ’n Belofte van dit wat Jesus reeds gedoen het: Gaan maar huis toe, jou seun lewe. En hy lê die sowat 30 kilometer weer af terug huis toe.
Die wonderwerk hou ook nie hier op nie. Die dieptepunt van die verhaal lê verder in vers 53: En hy en sy hele huishouding het tot geloof in Jesus gekom. Hierin lê ’n opvoedkundige beginsel. Wat jy as ouer van harte glo, spring oor op jou kinders en op hulle vir wie jy verantwoordelik is. Geloof is ’n skat vir die hele huishouding.
Die regeringsamptenaar handel uit desperaatheid om ’n geneesheer te vind en vind sodoende die groot Geneesheer. Die Geneesheer van die hele Kapernaum, Galilea en die ganse wêreld! Die Geneesheer wat sonde vergeef en nuwe lewe gee. Net soos Naäman en die regeringsamptenaar, het ons die woorde, die belofte van die lewende God wat sê: Wie in my glo, sal lewe! Die regeringsamptenaar het Jesus op sy woord geneem en Hom vertrou.
Die Galileërs het Jesus aangehang met ’n geloof wat berus op en afhanklik is van wonderwerke. Hiérdie Romeinse pa leer die Jode (en vir ons) dat ware geloof nie ’n wonderwerkgeloof is nie. Dit is ook nie ’n beloningsgeloof waar ek meen dat God met my móét handel op grond van my vroom lewe nie. Ware geloof is blote vertroue in Jesus, die Seun van God.
Ds André Thomas, Oos-Moot
