Markus 14: 43-52
Die wonde deur ’n geliefde toegedien, word opreg bedoel, maar oordrewe is die soene van iemand wat haat (Spr 27: 6, AFR2020).
In 2 Samuel 20: 8-10 (AFR2020) word vertel hoe Joab vir Amasa op ’n slinkse manier om die lewe gebring het toe hy hom nader met die volgende handeling en woorde: “Gaan dit goed met jou, my broer?” En toe gryp Joab met die regterhand Amasa se baard om hom te soengroet. Amasa het egter nie rekening gehou met die swaard wat in Joab se ander hand was nie… Joab wou vir Amasa op sy gemak stel met dié soengroet. Dit was ’n dodelike soen wat sy lewe in ’n oogwink beëindig het.
Judas se verraderlike soen het ’n dodelike nawerking gehad. Die kus was ’n voorafbeplande teken wat die menigte swaard- en knuppeldraers sou wys wié om te arresteer. Met hul aankoms het Judas dadelik na Jesus toe gegaan en gesê: Rabbi, en Hom gesoen. Die Griekse woord bring iets daarvan na vore dat Judas vir Jesus herhaalde male gesoen het óf op ’n tere en gevoelvolle wyse gesoen het. Geleerdes is hieroor erg verdeeld. Aan die een kant is daar die mening dat Judas tog iets van ’n liefde vir Jesus wou kommunikeer. Aan die ander kant is daar die mening dat Judas met sy omhelsing wou verseker dat Jesus nie kon ontsnap nie.
Ek skaar my by diegene wat glo dat Judas tog iets van sy liefde wou kommunikeer. Dalk het die eerste spore van twyfel en berou met Jesus se gevangeneming al ingeskop. Het Judas in sy waan gehoop dat Jesus se oorlewering nie tot sy dood sou lei nie? Toe dit wel daarop dui, het hy intense berou getoon – tot so ’n mate dat hy sy eie lewe geneem het. Blinde haat sou tog nie tot berou en selfdood gelei het nie?
Hoe dit ook al sy, Judas se rol is instrumenteel in die heilsgeskiedenis wat afspeel. Jesus se lot is deur Judas met ’n soen verseël – maar God gebruik ook dieselfde soen om ons redding te verseël.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege
