Efesiërs 3: 14-21; 2 Korintiërs 4: 7-10 

En mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Ef 3: 19).

In my lewe is die titel van ’n lied wat deur Mathys Roets gesing word; die lirieke van hierdie lied is deur Nardus du Plooy geskryf. Dit vertel die aangrypende verhaal van die dinge wat ’n persoon al deurgegaan het in die lewe. Die skrywer het tydens ’n onderhoud daarna verwys en gesê dat die lied iets vertel van elke mens se lewe. Ons almal se lewe het ’n bepaalde storielyn en in hierdie verhaal van ons lewe speel daar elke dag baie dinge af.

In my lewe… Wat sal jy hier vertel? In my lewe het ek seergekry, opgestaan, gelag en gehuil, geluk gevind, verlies ervaar. In my lewe het ek trane gestort, trane van dankbaarheid en ook trane van verlies. In my lewe het ek God al ervaar, kragtig en teenwoordig, en in my lewe het ek al gewonder: Here, waarom dan net een ry voetspore?

Die teks in 2 Korintiërs 4 wat handel oor die skat in kleipotte, herinner ons daaraan dat ons in ons besig wees met die lewe, bewus moet wees van ons breekbaarheid. Dit herinner ons dat die krag wat alles oortref van God af kom en nie van onsself nie. Daarom, te midde van die veranderinge in ons lewensverhaal wat ons met tye tot op die kruin van die golf neem, maar ons ook met tye hard laat val, vind ons die vertroosting dat ons nie deur God verlaat is nie. Ons weet dat daar in hierdie lewe sekere dinge is wat ons nie kan vermy nie, en dit sluit die verliese in wat die lewe inhou.

God wil hê dat ons Hom te midde van die storms en die verliese kan vind en Hom kan eer, en kan ervaar dat Hy hierdie kosbare lewensreis saam met ons meemaak. Daarom vind ons ook hoop in die gebed van Efesiërs 3 wanneer ons hoor en ervaar dat ons met die volheid van God vervul word.

Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Share via
Copy link
Powered by Social Snap