Matteus 26: 57-68
Die Joodse Raad, die Sanhedrin, is baie haastig! Jesus moet dood, Hy saai baie onrus onder die mense! Hy, wat die orde kom omkeer deur siekes gesond te maak en selfs dooies lewend gemaak het, keer die gewone gang van die Joodse godsdienstige lewe om. Hierdie Jesus moet verhoor word sodat Hy aan die Romeinse owerheid uitgelewer kan word om Hom te veroordeel.
Die verhoor begin met die volle Sanhedrin teenwoordig. Die hoëpriester, priesterhoofde, familiehoofde en skrifgeleerdes is almal byeen. Hulle oortree hul eie reël! Hulle wag nie tot die volgende oggend om die verhoor te laat plaasvind nie. Daardie nag nog kom hulle in Kajafas se huis bymekaar om Jesus te verhoor. Hulle het nie die bevoegdheid om Jesus ter dood te veroordeel nie, maar as hulle Hom skuldig bevind, kan die Romeinse goewerneur nie anders nie as om die doodstraf op te lê. Verskeie getuies word geroep, maar niks word gevind wat die doodstraf regverdig nie. Eindelik, lees ons in vers 60, kom twee getuies na vore en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel afbreek en in drie dae weer opbou. Hulle verstaan Jesus se woorde verkeerd, maar dit is die rede waarom hierdie klag teen Jesus gerig word. Op die vraag Is jy die Christus, die Seun van God? volg Jesus se bevestiging: Dit is soos u sê. Die bevinding is dat geen verdere getuienis nodig is nie. Hy verdien die dood! Onmiddellik begin die bespotting van Jesus deur die omstanders.
Dit wat u en ek te sê het oor Jesus Christus, het verreikende gevolge. Petrus het bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Kort daarna sê hy drie keer dat hy nie hierdie man ken nie! Die hoëpriester sê-vra: Is jy die Christus, die Seun van God? Ons moet versigtig wees om te gou te praat. Ons moet oortuig wees van wat ons sê én daarby hou!
Gebed
Breek deur elke donker poort met die ligglans van u Woord.
Maak dit lig, verdryf die nag; bring die dag waarop ons wag.
Ontferm U, Heer.
(Gesang 270: 4)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark
