Maleagi 2: 6
Dit is baie duidelik dat ’n verhouding met God die fondasie is waarop alles in ons lewens gebou word. As ons dit op enigiets anders probeer bou, bou ons dit op dryfsand. Dit is juis in die stormtye dat ons fondasie getoets word. Dit is maklik om in goeie omstandighede staande te bly met toegeplakte krake in ons mure, maar wanneer daar ’n sterk wind waai en water begin vloei, is dit ’n ander saak. Die groot vraag is of ons in krisistye volhoubaarheid in geloof het. Ons verhoudings sal ook ineenstort indien ons nie geanker bly in Christus nie. Augustinus het gesê jou siel sal slegs vrede en rus kry wanneer jy dit in God vind.
Indien ons nie verstaan dat ons geskape is met ’n intense honger na ’n verhouding met God nie, sal ons nie verstaan waar die innerlike leemte en eensaamheid vandaan kom nie. Gevolglik sal ons probeer om die leemte met ander dinge te vul. Dit sal egter ’n onsuksesvolle poging wees. Tydelike genot en plesier is nie opregte geluk en vreugde nie. Dit vorm deel van ’n verbruikerskultuur waartydens ons dink dat ons met onmiddellike bevrediging aan al ons behoeftes kan voldoen.
Ons dink dat ander mense in al ons behoeftes kan voorsien. Mense kan ’n mate van intimiteit bring, maar mense het ook tekortkominge en gaan jou teleurstel. Ons dink sukses en sogenaamde status gaan ons gelukkig maak. Dit is wonderlik om suksesvol te wees, maar jy sal net nooit voel dat jy vergenoegd is nie. Die wêreld is so geprogrammeer dat jy jou altyd sal vergelyk met iemand anders wat meer sukses of status het. Sommige mense kry tydelike vervulling in ’n streng godsdiens. God is nie in godsdiens geïnteresseerd nie; Hy is in ’n verhouding met jou geïnteresseerd. Ons kan nie ons eie genade verdien deur middel van goeie dade en deur sekere reëls te gehoorsaam nie. Streef vandag daarna om ’n intieme en persoonlike verhouding met God in jou lewe te kweek.
Ds Janine Fourie, Wonderboom-Suid / Pretoria
