Johannes 6: 1-15
Die gedeelte oor die vermeerdering van die brood begin op ’n teleurstellende noot. ’n Groot skare volg Jesus omdat hulle die wondertekens gesien het. Ons het dié frase al voorheen gesien. Jesus het self gesê dat Hy nie op mense kan peil trek nie. Hulle is opgewonde oor Jesus se tekens. Hulle glo dat Hy ’n wonderwerker is. Maar iewers is daar fout.
Johannes 6: 14-15 wys die fout uit: Toe die mense sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil koning maak, het Hy verder die berg op gegaan. Hul entoesiasme oor Jesus is misplaas. Hulle is entoesiasties oor ’n Jesus wat nie bestaan nie. In vers 26 sê Hy: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Met ander woorde, om My as koning te hê, beteken vol mae. Dit is nie die evangelie nie. Dit is hoekom Jesus wegstap.
Wat sê Jesus vir ons? Hy maak ’n venster oop sodat ons kan sien wie Hy werklik is. Hy openbaar sy heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. Hy maak hierdie venster op sy heerlikheid oop, nie sodat ons entoesiasties kan raak oor wat Hy ons kan bied nie, maar sodat ons kan sien dat Hy selfs beter is as enigiets wat ons ooit sou wou hê.
Jesus het nie na die wêreld gekom om vir ons brood te gee nie, maar om vir ons brood te wees. Hoe kan ons van hierdie brood kry? Hy sê: Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe (Joh 6: 51). Wanneer Jesus sy liggaam aan die kruis gee, word Hy voedende, genoegsame, reddende brood. Het jy al van hierdie brood geëet?
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
