Markus 15: 15 en 21-39
Een van die verduidelikings wat gegee word vir die leë graf, is dat Jesus nie werklik gesterf het nie. Mense is mislei om te dink dat Hy dood is. Tog dui die gegewens uit die Evangelies daarop dat Jesus werklik daardie Vrydag aan die kruis gesterf het. Jesus is eers gegesel en daarna gekruisig.
Persone wat gegesel is, het dit dikwels nie oorleef nie. Hulle is aanhoudend geslaan met ’n sweep waaraan stukkies been en metaal vasgemaak was. Dit het ernstige bloeding en skade aan die rug, bene en selfs organe veroorsaak. Dis vandag bekend dat ’n gegeselde persoon weens die bloedverlies dikwels in ’n toestand van hipovolemiese skok, die aanloop tot ’n hartstilstand, verkeer. Simptome weens hierdie bloedverlies is onder andere swakheid of floutes en dors. Die Evangelies beskryf juis hierdie simptome van Jesus nadat Hy gegesel is (Matt 27: 32; Joh 19: 28). Jesus het dus heelwat bloed verloor selfs voordat Hy nog gekruisig is.
’n Persoon wat gekruisig is, se hande (deur die polse) en voete (deur die enkels) is aan die houtbalke van die kruis vasgespyker. Hierdie persoon was op so ’n manier aan die kruis uitgestrek dat sy diafragma onder spanning was en asemhaling belemmer is. Om asem te haal, moes die persoon homself vanuit die enkels opdruk om die longe in staat te stel om lug in te neem. Die inspanning en pyn hieraan verbonde kon nie lank volgehou word. Dan het die persoon weer gesak om die gewig na die arms te verskuif. Soos ’n persoon se kragte afneem en hy later nie meer kon opstoot nie, het daar ’n punt gekom waar hy nie meer kon asemhaal nie, en hy het dus weens versmoring gesterf.
Tydens die hipovolemiese skok en gebrek aan suurstof wat ’n hartstilstand voorafgaan, versamel daar ook ’n helder vloeistof om die hart (kardiale effusie) en die longe (pleurale effusie). Johannes verwys spesifiek hierna as hy vertel dat daar bloed en water uitgekom het (Joh 19: 34) toe ’n spies in Jesus se sy gesteek is om seker te maak Hy is dood.
Ds Juanita du Preez, Pierneef
