Jakobus 5: 13-20

Geliefdes, geloof is nie ’n geïsoleerde verskynsel nie, maar ’n kollektiewe verskynsel. Daar waar die evangeliewoord in blydskap aangeneem word, word die gelowiges deel van die liggaam van Christus. Daarom glo ons in die gemeenskap van gelowiges. God is ’n Verhoudingswese. Ons staan in verhouding tot Hom en tot mekaar. Geloof en verhouding is ook nie passief nie, maar aktief. Ons moet daarom besig wees deur geloof in hierdie verhouding met God en met mekaar. Ons ontvang die vrugte van geloof en deel dit uit aan mekaar. So versterk ons mekaar en lei ons mekaar op die goeie weg. Daarom moet ons bedrywig raak in gebed, in die uitdrukking van geloof en verwondering in lofliedere, en in die deel in ons broers en susters se lewens deur daar te wees, mekaar aan te raak en saam tot die Here te nader. Die genesing van ons stukkende en gekneusde siele lê juis in die liefdevolle deel en saamdra van die las en die vertroue in God se goedheid, guns en bemoeienis met ons.

’n Lewe gekenmerk deur gebed spruit uit ’n nederige, verootmoedigende houding tot die verhewe maar betrokke God. God slaan ag op die mens wat na sy wil vra en gee aan hom insig. Wanneer ons insig het, gee ons werklik om vir mekaar, en wanneer ons werklik omgee vir mekaar, probeer ons mekaar oplig uit die chaoswaters van die wêreldse dinge na die vasteland-waarheid van die Here.

Ons is saam in hierdie ding. Ons is saam as geregverdigde sondaars in ’n gebroke werklikheid wat wag op die wederkoms van Christus. Ons wag saam op die vervolmaking van die reddingsplan vir die wêreld, wat reeds by die skepping in beweging gebring is, wat verkondig is deur die profete, gestalte gekry het in God se Seun, en uitmond in die dag van die Here, die oordeelsdag, waarheen alle dinge met spoed op pad is.

Gesang 396 – Aanskou die Heiland, sien die kruis…

Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad

Share via
Copy link
Powered by Social Snap