Lukas 12: 13-21

Hierdie boer het ’n groot probleem – sy houding is verkeerd. Dit gaan vir hom oor die ek wat dit en dat sal doen, die ek wat sal afbreek, die ek wat sal opgaar en die ek wat vir myself sal sê dit gaan goed want ek besit baie dinge. Dit gaan vir die boer oor sy oes en sy skure. So kom staan die oes tussen die ryk man en God, en tussen hom en sy medemens. In die proses word hy ’n eensame, verbitterde mens sonder ’n toekoms wat in werklikheid arm is, al besit hy baie!

So lyk gierigheid. Dit is wanneer ek die ek-taal praat. Dit gaan oor myself en wat vir my belangrik is, nie oor God of my naaste nie. Soos die man in Lukas 12, wil ek ook nie hierdie boodskap hoor nie. Hy wil nie met sy broer versoen nie, want, glo hy: As ek maar net my deel van die erfporsie kan kry, dan sal ek gelukkig wees. Hy wil Jesus gebruik om sy broer te dwing om die verdeling van die erfporsie af te handel sodat hy met sy lewe kan aangaan.

Jesus ontmasker sy gesindheid wat net onder die oppervlak lê. Op die oog af is hy besig om vir sy toekoms voorsiening te maak, maar, en dit was sy fout, hy doen dit sonder God. Die Here is nie by sy toekomsplanne ingesluit nie en dit maak hom blind vir God se wil en sy naaste se behoeftes.

Dit gaan nie hier oor besittings of geld nie. Dit gaan oor die oorvloed van genade, liefde en tyd wat die Here vir ons het, en wat Hy ons stuur om met mekaar en ander te deel. Dat jy elke dag vanuit jou geloof en jou hart lewe, die goed wat tussen jou en God staan uit die pad sal haal, en om elke dag te kies om alles wat jy is, tot eer van die Here te gebruik.

Ds Heloïse Herbst, Rietvallei