Matteus 5: 43-48
Die Here Jesus gee vir ons in hierdie gedeelte ’n baie moeilike opdrag, een van die heel moeilikste opdragte wat ’n Christen kan ontvang. Dinge soos vergifnis, versoening, liefde vir die vyand – dis dinge wat ons nie altyd regkry nie. En juis hierin lê ’n baie kosbare les: Ek kan dit nie uit my eie regkry om ’n gelowige te wees nie. Ek het die Here se hulp nodig.
Dit is maklik om ’n goeie mens te wees as alles gemaklik is. Dit is maklik om geduldig en vriendelik te wees as alles loop soos wat ek dit wil hê. Dit is maklik om vir my vriende lief te wees en om hulle vir wie ek omgee, te groet. Selfs die heidene en tollenaars kry dit reg. Maar dis juis in daardie oomblikke wanneer ek nie geduldig en vriendelik wil wees nie; wanneer ek my donkerste self op ander wil loslaat; wanneer ek nie liefdevol wil wees nie, dat Jesus vra dat ek as ’n kind van God moet optree.
Jesus staan nie ver verwyderd nie en stel nie hoë verwagtinge aan sy kinders nie. Inteendeel, Hy het begrip, want Hy het die wêreld se swaarkry aan sy eie lyf gevoel. Ons lees in Galasiërs 5: 22-25 dat Paulus praat van die vrug van die Gees. Dit sal ons help om Jesus se woorde mooi te verstaan. As ek dit op my eie kan regkry om vriendelik en geduldig en nederig te wees, dan moet ek dit net vrugte noem. Dis nog nie van die Gees nie. Eers wanneer dit baie moeilik raak en nie meer eintlik binne my vermoë is nie en die Gees dit vir my moet gee, omdat ek dit nie kan doen nie, dán raak dit vrugte van die Gees. Nou verstaan ons wat Jesus bedoel. As ek maar net soos die wêreld optree, aan wie behoort ek dan? Jesus wil hê ons moet anders optree.
Waar het ek vandag die Here se hulp nodig?
Kom ek gaan dra vandag vrugte wat wys dat ek aan God behoort.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust
