Genesis 2: 4-8, 15 (AFR2020)

Dit is soms ontstellend om te sien hoe vernietigend mense kan optree. In plaas daarvan dat mense opbou, breek hulle af. Hulle gaan soms meedoënloos voort met die vernietiging van geboue, strukture, eiendomme, en vele meer. Daar is dikwels ook geen respek vir mense se lewens en gevoelens of enigiets anders nie.

Daarom is dit goed dat ons weer besef dat die Here vir ons lewe gee. Die Here maak dit vir ons moontlik om te kan leef en te kan werk. Ons werk hier op die aarde in God se teenwoordigheid, soos die Here dit van die begin af bedoel het.

In die boek Genesis is die geskiedenis van die hemel en die aarde opgeskryf. Die Here is die Skepper van alles en almal wat bestaan. Omdat daar niemand was om die grond te bewerk nie, het God ook die mens geskep. Die Here het die mens ’n lewende wese gemaak en asem gegee om te kan leef in God se tuin. God wil hê dat die mens besig sal wees en sal werk met die wete dat God sal sorg. In God se skepping kan die mens leef met vreugde en dankbaarheid omdat God, ons Skepper, vir sy skepping sorg.

God het ons as mense gemaak wie ons is. Die Here is met ons besig waar ons is. Daarom het ons lewens betekenis. En waarde, soos ons lees in Efesiërs 2: 10: Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.

Ons doen dit om weer harmonie in die wêreld te bring, want diep binne ons wil ons graag hê dat dinge sal wees soos dit aanvanklik bedoel was. Daarom kan ons met vrede lewe.

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap