1 Korinthiërs 15: 1-34; Markus 9: 14-29

Indien die opstanding van Jesus Christus nie plaasgevind het nie en sy lewe met die dood geëindig het, sou ons geloof en verkondiging sinloos wees. Jesus Christus het egter die sonde, die siekte en die dood oorwin. Alles is aan Hom onderwerp. Die Here Jesus gee ook vir ons oorwinning.

Jesus se lyding en sterwe was nie tevergeefs nie en daarom is ons lyding en sterwe ook nie tevergeefs nie. Daarom kan ons hier op aarde dinge beleef en deurleef met die wete dat die Here met ons besig is. So lees ons onder andere in Markus 9: 14-29 dat die Here ’n mens wat na Hom toe kom, nooit verwerp nie. Al twyfel mense soms, wys die Here ’n mens nooit weg nie maar oortuig ons van sy oorwinning. en versterk ons geloof.

Ons lees van die vader wat sy seun na Jesus toe bring sodat Jesus hom kan help. Niemand anders kon hom nog help nie en hy is baie bekommerd oor sy kind. Ook die dissipels kon hom nie help nie. Die vader van die seun het vir Jesus gevra: ‘Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.’ Jesus vra hom toe: ’As U kan? Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.’ Onmiddellik roep die vader van die kind uit: ‘Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!’ (Mark 9: 22b-24, AFR2020). Jesus het die seun genees. Hy het self die seun se hand gevat en hom regop gehelp sodat hy kon opstaan.

Die Here vra ook vir ons wat ons glo en in Wie ons glo. Ons plaas ons geloof in die hande van die Here Jesus omdat ons op Hom vertrou. Hy bly die groot Geneesheer wat die krag het om te genees, wat self aan ons lewens betekenis gee.

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap