Markus 8: 22-26 (AFR2020)
Hierdie teks kan nogal oopgekrap word met soveel vrae wat ondersoek kan en behoort te word. Hoekom bring die man se vriende hom en kom hy nie self soos die ander nie? Hoekom moes hulle uit die dorp gaan? Hoekom gebruik Jesus speeksel? Hoekom word die man nie dadelik volledig genees nie? Hoekom stuur Jesus hom huis toe, maar hy mag nie in die dorp ingaan nie? Hoekom moet ons weet die man sien bome wat soos mense beweeg?
Al hierdie vrae gaan ’n mens help om die hart van Markus te verstaan wat met hierdie hele Evangelie vir ons probeer wys wat die implikasie van die lewe en werk van Jesus vir die geloofsgemeenskap is. En hier kan ons duidelik sien dat selfs iemand wat deur vriende na Jesus gebring is, se lewe ná kontak met Jesus nooit weer dieselfde was nie. Maar dit het nie oombliklik gebeur nie. Toe Jesus hom die eerste keer aanraak, moes Jesus hom vra: Sien jy iets? Die arme man moes toe erken dat hy sien, maar dit wat hy sien maak nie sin nie. Eers met Jesus se tweede kontak kon hy duidelik sien en sy sig vertrou.
Wat het Jesus hiermee gewys, en hoekom skryf Markus dit vir ons neer? Die ander Evangelies het nie hierdie gebeurtenis ingesluit nie, so hoekom het Markus? Dalk is dit om te wys dat Jesus die Seun van God is en nie ’n man met ’n bepaalde resep waarmee hy almal op dieselfde wyse genees nie. Miskien wys Jesus die dissipels hier op die proses om van geestelike blindheid na geloofsvertroue te beweeg. Dit is dalk ook moontlik dat die Here selfs vandag vir my en jou wat in verhouding en kontak met God leef, daardie vraag vra: Sien jy iets?
Mag hierdie gedagtes ons elkeen opnuut laat wonder oor wat ons sien, en of die Here ons nie dalk ook uitnooi om eerlik te wees oor die onduidelike beeld wat ons dalk mag hê nie.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
