Filippense 2: 1-11 (AFR2020)

Een van die minder lekker dele van die lewe, is wanneer ’n mens vir ’n werksonderhoud moet gaan. Die kruks van ’n werksonderhoud is dat mense – meestal vreemdelinge wat jou nie ken nie – deur middel van jou CV en ’n gesprek waarin jy vrae beantwoord, jou waarde bepaal in terme van kwalifikasie, prestasie, bekwaamheid en ervaring. Hoe meer prestasies, kwalifikasies en ervaring ’n mens het, hoe beter is jou CV. Daarom is daar deesdae enorme druk op kinders om bo en behalwe skool en normale aktiwiteite ook allerlei buitemuurse aktiwiteite te doen, want dit sal goed lyk op hul CV. Die afkorting CV kom van die Latynse Curriculum Vitae wat vertaal kan word as die gang van jou lewe. ’n CV is, met ander woorde, eintlik veronderstel om die verloop of gang van jou lewe weer te gee.   

In Filippense 2, spesifiek in verse 5-11, vind ons Jesus se spreekwoordelike CV. Maar watter antiklimaks is Christus se CV volgens wêreldse standaarde! In verse 6-7 lees ons: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Waar status, prestasie, eer en aansien die belangrikste standaarde vir mense is, waar ons graag in ons loopbane die trappe wil klim, bevordering ontvang en bo uitkom, getuig Jesus se CV van die teenoorgestelde. Hy, wat self God is, het sy gelykheid aan God prysgegee, Hom leeggemaak van sy mag en hoë posisie om ’n slaaf, ’n dienaar, te word – die laagste vlak van menswees!

Hierdie gesindheid van Christus druis lynreg in teen die tydgees waarin ons leef. Dit is dalk waar die verwarring inkom – die Bybel, die evangelie, praat ’n totaal ander taal as die wêreld. Is dit dalk ook waarom ons so sukkel om ons geloof uit te leef? Werk ons harder vir die wêreldse CV as vir ons CV in die geloof?

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap