Het jy onlangs ’n jongman gesien wat die Blitspos se hoogtepunte in ’n videoformaat aanbied en ook gewonder wie is hierdie man? Op pad met Iwana stel graag aan julle bekend: At Hattingh! At is tans ’n derde jaar teologiestudent aan die Fakulteit van Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Hy het al op die fakulteit se studenteleierskapkomitee van 2023/2024 as ondervoorsitter gedien en as hoof van akademie- en studente-ondersteuning. Boonop dit dien At tans as lid van die Delphi-komitee by Gemeente Philadelphia en is onlangs verkies tot die bestuur van Van der Hoff-studentevereniging as fiskus. Hy is ook getrou betrokke by Gemeentes Montana waar hy die oggenddiens bywoon en by Gemeente Philadelphia waar hy die aanddienste bywoon.
Maar dalk lyk hierdie jongman vir jou bekend? At Hattingh is die seun van ds Attie Hattingh, leraar van Gemeente Krugersdorp-Noord. At volg in die voetspore van sy pa, maar verduidelik dat hulle nie ewebeelde van mekaar hoef te wees nie: Ons is baie dieselfde en ook baie verskillend, daarom gaan ons dinge ook op verskillende maniere benader en uitvoer. Natuurlik klink dit vir bystanders ideaal om ’n predikant as pa te hê tydens jou teologiese opleiding. Maar At verduidelik dat met die aanloop tot sy eerste klaspreek wat vanjaar plaasgevind het, het sy pa hom gelos dat hy self die uitdaging kaalvuis aanpak. Maar dit is juis die voorbereiding tydens dié vormende proses wat hom laat voel het asof hy vlieg toe hy op die kansel klim. Wanneer kan ek weer preek?, was die woorde wat sy ervaring op die preekstoel omvat. At verduidelik verder dat hy van sy mentors in homself kon sien. Hy staan op die skouers van sy pa, drr Antionette Janse van Rensburg en Thinus van Staden na wie hy opkyk as leraars in die Kerk.
Hy was uiteraard op sy senuwees want hy vertel dat hy nie geweet het wat om te verwag nie, maar hy het presies geweet waaroor hy wil preek. Dit is hierdie passie waarna hy verwys toe die volgende vraag aan hom gestel is: Hoe kan studente opgewonde bly oor hul studies en die dienswerk wat hul verrig in die Kerk? Dis belangrik om betrokke te wees en ’n bydrae te maak in die gemeente waar jy jouself tuis vind, meen hy. Vir At is dit duidelik: Ek weet dis [teologie] wat ek moet doen en ek weet dit met my hele hart; dis waarvoor ek geroep is, dis waar ek moet wees en dis waar ek gelukkig is. Maar dit is ook vir At belangrik dat studente inskakel en aktief besig bly met die passie wat hulle na teologie in die eerste plek gelei het.
At sien uit vir dit wat die toekoms vir die Kerk inhou: Teologie is die manier hoe ek my roeping as God se kind daar buite uitleef. Dit het hy weer besef ná sy bywoning van die 74ste Algemene Kerkvergadering en die bydrae wat hy by ’n gemeente kan bied.
Die Kerk is dankbaar vir jongmense wat met sulke passie en inisiatief die sigbaarheid van die Kerk wil uitbrei. Ons sien uit daarna om At Hattingh aan te hou sien vlieg op die kansel!