Handelinge 2
Regdeur Jesus se bediening duik die vraag op: Wie is hierdie Jesus? Ons ken Petrus se antwoord toe Jesus vir sy dissipels gevra het: Maar julle, wie, sê julle, is Ek? (Matt 16: 15). Petrus antwoord: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Ons lees dat hy onder leiding van die Heilige Gees opgestaan en begin verkondig het. Hy haal ’n groot aantal Ou Testamentiese beloftes uit Joël aan en dui aan dat dit wat hier gebeur, in lyn is met wat God in die verlede geopenbaar het.
Hy verbind die profesieë met Jesus se werk en bediening waar dieselfde wonders en tekens plaasvind. Hy is baie skerp en sê vir die Jode dat hulle Jesus verguis het, maar God het gewys wat sy plan met sy wêreld is. Jesus Christus staan op uit die dood. Hy is Heer. Die uitstorting van die Gees is die bekragtiging van God se heilsdaad vir die wêreld.
Met ontsag vervul, vra die omstanders dan: Wat moet ons nou doen? Petrus antwoord: Bekeer julle en laat julle doop. Dan sal God jul sonde vergewe en julle sal vervul word met die Heilige Gees. Hulle was begeester en het uitgegaan en die evangelie verkondig en uitgeleef, en drie duisend mense is by die gemeente gevoeg. Die Heilige Gees stig ’n nuwe geloofsgemeenskap uit elke stam, taal volk en nasie. Hul uitstaande kenmerke was eensgesindheid, hulle was vol van die Heilige Gees, hulle het getuig oor die opstanding van Jesus Christus. Hulle was een in hart en siel.
Meer as ’n kwart van die boek Handelinge bestaan uit toesprake, en elke toespraak bevat die getuienis dat Jesus die opgestane Heer is. Ook wanneer Petrus-hulle weer gevange geneem word, kan hulle nie stilbly nie, en verkondig hulle Jesus as die opgestane Heer.
Ons is daar om ook hierdie verkondiging verder uit te dra op dieselfde wyse as dié gelowiges. God versorg sy kerk met die nodige gawes. Stel jou beskikbaar om deel van hierdie geloofsbeweging te wees. Verkondig saam dat Hy die opgestane Heer is.
Ds Manda le Roux, Weskus