Jesaja 52: 7-12; Lukas 2: 8-14

Dit is wonderlik om weer die ou verhaal te hoor, die ou liedere te sing, en te hoor hoe die engel ons kom verseker van die vrede van God wat hierdie Kindjie bring. En tog is dit nie altyd maklik nie. Hoe praat jy oor vrede op aarde, terwyl ons weet dat daar in ons land en wêreld daagliks stories van geweld en onreg is? Hoe sing jy van vrede op aarde terwyl die ekonomie, politiek en onsekerhede mense ontwrig? Hoe kry jy dit reg om jou te verwonder aan wat die lied noem ons grootste Kersgeskenk is?

Dit is natuurlik nie ’n nuwe probleem nie. Jy lees baie kere daarvan in die Bybel ook. Soos die Jode hier in Jesaja 52. Alles waarin die Jode vas geglo het, het ineengestort. Hulle is God se volk, maar nou? Nou lê alles verwoes en verlate. Daar is niks oor van Jerusalem en die tempel nie.

Dan stuur God sy profeet na hulle toe. Luister! Hoor die voetstappe van een wat jou kom verseker dat God jou nie vergeet het nie, wat vir jou die goeie nuus bring dat God steeds in beheer is. Luister mooi as die stem vir jou kom sê dat hierdie gebrokenheid om ons nie die laaste woord sal hê in ons wêreld nie. Die puinhope wat eens Jerusalem was, en die onsekerhede wat ons ervaar, sal nie die laaste woord hê nie.

Want daar was ’n nag – ’n nag toe die engele op die velde buite Jerusalem gesing het. Daar was ’n engel wat kom vertel het van vrede op aarde, omdat God in mense ’n welbehae het, en van ’n Kersgeskenk in die krip wat ons vir ewig vry kom maak. En dit is waarin die wonder van Kersfees lê. Sing saam, ten spyte van al die onsekerhede waarin ons lewe. Wéét dat ons God Koning is! Weet dat hierdie Babatjie in die krip die sleutel is waarmee God die toekoms vir my en jou kom oopsluit.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos