Psalm 146: 5-10

Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! ’k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof.

Ek wonder of jy al daar was? Daar waar jou lied van jou weggeneem is? Toe jou woorde en drome opgedroog het? Was jy al daar, of is jy daar? Daar waar niks meer saak maak nie. Kan jy sulke tye onthou? Tye wanneer jy jouself afvra: Wanneer gaan hierdie slegte dinge wat in my lewe gebeur, ophou? Want my lewenslied het opgedroog.

Dit het om jou stil geword. Wat kan jy vandag daaraan doen? Sing! Laat ons sing! Dit sal ons laat besef daar is geen ander uitweg as Hy, die lewende Almagtige God nie. Slegs God se Woord kan dit vir my doen. Daarom moet ons sing. Ja, jy sing oor die goeie God van jou vaders en hul vaders. Jy sing oor jou hoop vir die toekoms wat op Hom alleen gebou word, omdat jy reeds iets van sy mag en krag gesien het. Maar veral ook omdat jy sy geskiedenis met jou en jou mense ken.

Jou lied gaan oor sy goedheid vir hulle wat sukkel en wat swaarkry. Jy sing vir hulle wat geen ander uitweg as Hy het nie. Wat opgesluit en afgestomp leef omdat die lewe die rug op hulle gedraai het. Nou sing jy omdat Hy sy oog op hulle gerig hou en sy hand styf om hulle vou. Jy sing dit alles met blye galme as jy een van hulle is, en jy sing met ingetoë dankbaarheid as jy een van die gelukkiges is wat sulke swaarkry gespaar is. Jy sing omdat jy dankbaar is dat die goddeloses se invloed teëgewerk word deur die Here se troue sorg.

Kom ons sing, want die vreugdekers brand in Adventtyd. Vreugde oor Hom wat kom. Kom laat ons sing – omdat hoop ’n naam het. Sy naam is: Wonderbare Raadsman; Magtige God; Ewige Vader; Vredevors; Seun van die Mens; Begin en Einde. Ja die Weg, Waarheid en Lewe het ook vir jou vryheid, vrede, vreugde en liefde gebring.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos