Jesaja 62: 1-12
Dalk kom dit vir jou as ’n bietjie van ’n skok as jy hier lees dat dit sleg gaan met God se mense. Mense raak nie siek omdat hulle groter sondaars is as ander nie. Hulle kom nie ongelukke oor omdat hulle swakker gelowiges is nie. Die waarheid is: Ook ons as gelowiges lewe in ’n stukkende wêreld, wat deur die sonde en verkeerde keuses opgemors is. Geloof is nie ’n waarborg dat dit altyd net goed sal gaan nie.
Dit is hoekom Jesaja vra: Wat maak jy in sulke tye, as jy so hulpeloos en hopeloos voel, en nie weet watter kant toe nie? Jesaja se antwoord: Ek sal nie stilbly nie. As dit om my donker raak, sal ek myself en ander aanhou herinner aan God se beloftes. Dit is soos die wagte wat God self op die stadsmure aanstel. Hulle is daar om wag te staan, maar ook moet hulle die heeltyd God se mense herinner om tog nooit God se beloftes te vergeet nie. Ware geloof is om aan te hou om aan God se beloftes vas te hou, al sien ek nog niks daarvan nie, selfs al skreeu my omstandighede daarteen. Geloof is om te weet: Ek is veilig in God se hand.
Jesaja sê ook jy moet die Here aan sy eie beloftes herinner. Dit is nie ter wille van God dat jy Hom aan sy beloftes moet herinner nie. Dit is ter wille van jouself. Jy het nodig om met God te praat, om telkens weer sy beloftes vir jouself toe te eien, dit deel van jou te laat word. Sodat dit jou deur enige krisis kan dra.
Watter verskil sal ons nie dan aan ons Kersfeesvierings maak nie as ons regtig onsself en almal om ons aanhou herinner aan God se liefde en sy beloftes? Die belofte wat vervul is in Jesus Christus. Moet nooit ophou nie. Moenie moed verloor nie. Ons God is getrou.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos