Jesaja 61: 1-4 en 8-11

Op die derde Sondag van Advent word die Adventkers, wat vreugde of blydskap simboliseer, aangesteek. Die koms van Christus wek inderdaad blydskap en opgewondenheid by ons en vra vir uitbundige lofprysing ten spyte van ’n gebroke wêreld. Jesaja 61 verwoord iets van hierdie vreugde en verkondig die blye boodskap dat die dag van die Here naby is, ’n Dag wanneer droefheid in vreugde verander gaan word, en hartseer in blydskap. Die troos wat hier vir gebrokenes aangekondig word, is ’n Goddelike troos, dit maak ’n daadwerklike verskil aan die mense én hul omstandighede. Dit was Israel ná die ballingskap: gebrokenes van hart. Hulle het in ballingskap na goeie nuus gesmag. Hulle het moontlik na hul land teruggekeer met drome van en hoop op ’n gelukkige en goeie lewe, maar die stede en dorpe was puinhope. Landboutoestande was ellendig. Goeie nuus het in leë drome verander.

Daarom stuur God sy profeet met ’n blye boodskap aan die mense in nood: ’n hartswoord. Hy sê: Ek is by julle; Ek sal ’n verskil maak aan jul nood. Dit is die bewoë God wat praat in Jesaja 61 en wat méns geword het in Jesus van Nasaret. God wat elke gebroke hart raaksien.

Hoe lyk die gebrokene van hart in jou lewe en omgewing? Hoe klink die woorde waarmee ons vertroos: Jy moet dit aanvaar en leer om daarmee saam te leef. Wat sê ons eintlik daarmee? Is dit geloofstaal? Daar is geen herstel en antwoord vir ’n krisis nie. Maar God sien elke gebrokene van hart en reageer met krag.

As daar een ding is wat Advent ons leer, wat ons moet leef en wat die kruis op Golgota nog duideliker sê, dan is dit: God aanvaar nié dat ons harte gebreek moet wees, dat ons platgeslaan moet word deur die lewe nie. God genees die stukkende hart, Hy tel die platgeslane mens weer op. Waag dit gerus om met blydskap in die Here te leef, want God bring genesing. God sien elke gebroke hart raak.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth