Filippense 1: 3-11
Die kenmerk van ’n gesonde gesin met geloofswaardes is dat so ’n gesin se lewenswandel met die evangelie van Christus ooreenstem. Dit is waartoe Advent die kerk van Christus oproep: om uit dankbaarheid vir wat Christus gedoen het, eensgesind te wees. Ons gee hierdie tyd van die jaar baie geskenke vir mekaar. Wat sou die beste geskenk wees? Die geskenk wat ons kan gee, is om onbeskaamd lief vir die Here te wees. Daarom is dit dalk nodig dat die bedoeling van Paulus se gebed ook deel sal word van ons praktiese geloofsgeskenke wat ons hierdie Kerstyd gaan uitdeel:
Kom ons bid altyd met blydskap vir mekaar. Kom ons werk saam aan die verkondiging van die evangelie. Kom ons wys aan mekaar hoe om met sagte oë na ander te kyk. Kom ons leer mekaar dat Christus alles en in almal is. Kom ons bid dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.
Die liedjieskrywer Rudi Claase se lied Vingers en voete dra iets van hierdie boodskap oor:
Ons vingers moet voel hulle moenie net raak nie.
Ons voete moet swerf anders maak ons nie saak nie.
Wat in die wêreld is liefde as ons stil sit?
Waarvoor is vingers en voete dan daar
as ons sit agter mure en niks ooit ervaar nie?
Wys aan jul kinders dat lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie (Spr 1: 7). Wys jou kinders hoe om onvoorwaardelik lief te hê. Wys hierdie Kersfees aan mekaar hoe om as gesin die Here met toewyding te dien. Skep spangees, ’n hegte eenheid binne die gesin. Wys aan mekaar dat ’n verhouding met die Here ’n belangrike plek in jul lewe het en dat om saam met ander gesinne te aanbid, ’n Bybelse opdrag is. Die beste geskenk wat ons vir mekaar kan gee, is geloof wat prakties gemaak word deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos