Johannes 1: 19-28
Die naamborde wat ons vandag langs die pad kry, is groen borde waarop die dorpe se name met wit letters aangebring is. Ná die naam van die dorp staan hoeveel kilometers dit tot daar is. Vroeër jare het die borde anders gelyk. Party was net so ’n enkelbordjie. Die dorp se naam was op die bord en die pylkant het die dorp se rigting aangedui. By kruisings het jy ’n paal gekry met ’n paar borde met dorpsname daarop. Die borde het in die rigtings gewys waarin die dorpe is.
Vers 19 vertel hoedat godsdiensleiers van daardie tyd vanaf Jerusalem na Johannes by die Jordaan gegaan het en vir hom gaan vra het: Wie is jy? Johannes antwoord: Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit! Ek is die een wat die pad vir die komende Christus reguit maak, die een wat die weg vir die Here gereedmaak, voorberei. Ek wys heen na die Messias, wie se skoene ek nie werd is om vas te maak nie. My lewe, ook die doop waarmee ek doop, is ’n heenwysing na Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
Wat as die vraag vir jou gevra word: Wie is jy? Waarheen wys jou lewe? Wat staan op jou bordjie? Kersfees is om die draai. Dink maar hoeveel dinge heenwys na Kersfees: Adventtyd, Kersliedere, Kersversierings. Dit is waartoe die Woord ook vir ons oproep: om met ons lewens heen te wys na Christus, dat daar ook “Christus” op ons bordjies sal staan.
Laat ons die Here vra om deur sy genade en deur die leiding van sy Gees te gee dat ons lewens al meer na Christus sal heenwys. Dat ons lewens al meer die pad vir ander na die Here sal gelykmaak, dat ons ander se geloof sal versterk, dat ons lewens voorbeelde van navolging van Christus sal wees. Dat Johannes die Doper se woorde, Hy moet meer word en ek minder, in ons lewens waar sal word.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos