Die matriekuitslae bevestig wat ons almal geweet het sou kom: Minder matrikulante het die paal gehaal.

Te midde van teleurstelling en verwyte gemik teen die Departement, skole en Covid-19, en in ons eie huise teen ons kinders wat nie aan verwagtinge voldoen het nie, skuil iets wat ons miskyk. Matriekuitslae is kwantifiseerbaar – daar was ’n 5%-daling in die slaagsyfer, inkrimping in die ekonomie is meetbaar – die mees optimistiese van ekonome het in 2020 ’n 5%-insinking in die BBP verwag. Maar die laksheid wat onder die res van ons posgevat het, wat nie in getalle uitgedruk kan word nie, is wat die ergste verwond.

Nee, nie alles is ons skuld nie, maar ook nie alles kan toegeskryf word aan die uitslagkurwe, die onbeholpe regering of ingrendeling weens die pandemie nie. Ons het self vervlak en met alles wat ons doen, verlangsaam.

Ons kwinkslae oor beperkings op alkohol- en sigaretverkope was aanvanklik komies, die leë ongevalleteaters oor feesdae oorbluffend, en die verbetenheid waarmee na drank en sigarette gesoek is uiteindelik tragies, die pryse wat daarvoor betaal is ’n skande. Maar ons het vergeet om dankoffers aan die Kerk te gee.

Tuisbly was eers soos vakansie. Te veel van ’n goeie ding is later ook nie meer goed nie, en dit verstom hoe maklik ons nou sommer wegbly van kerk én werk. Van vrees is die kerk leeg. Nes takealot, stuur die dominee darem ook nou jou weeklikse woord huis toe, dus is die nodigheid vir erediens iewers elders ’n vraag wat met ’n besliste nee beantwoord word. Ons is bang vir besmetting, mos. Met die los lootjie op Sondagoggend, gaan eet ons iewers laat ontbyt, en maak gou ’n draai by die winkels.

Sorg is ons Christelike plig, gasvryheid ’n opdrag, maar “sosiale afstand” weeg nou swaarder, en ons ly honger en sterf alleen. Al leef hulle nog, het ons ons ouers lanklaas gesien. Maar wat kan ons nou daaraan doen? Ons is nie alleen nie: Al die pelle wat Saterdagaand kom braai het, kla oor dieselfde ding.

Ons het lui geword. Ons is traag. Ons het afgestomp. Ons is ongeërg.

En is ons nie kwaad nie! Ons bly van die Nagmaal af weg, want Nagmaalviering om die tafel en ’n gedeelde beker is geváárlik. Maar dat met die Nagmaalbediening voortgegaan word, op ’n wyse wat van die “Hervormde” verskil weens inagneming van dié aansteeklike siekte, is die laaste strooi: Liewer sonder die liggaam en bloed van Christus as om mee te doen aan ’n verbasterde sakrament.

Ons gebrek aan onderskeidingsvermoë is ontmasker; ons weet nie meer waarop dit wesenlik in ons geloof aankom nie. Ons geloof is skaars meer as gewoonte en tradisie. En ons is weerbarstig: Ons laat ons nie meer leer nie. Want van te leer, kom daar altyd verandering. Daarvan het ons net mooi genoeg gehad! Ons duld geen verandering meer nie.

Die slegte nuus is, “verandering” staan in ons naam: In die “Hervormde” Kerk noem ons onsself “Hervormers”, selfs “stoere Hervormers” (laasgenoemde net as ons wil sê ons en verandering is nie maats nie). “Hervorming” is regtig nie so moeilik om te verstaan nie; dis ’n maklike Afrikaanse woord wat beteken om te verander sodat jy God beter dien. Dit geld vir lewe én liturgie. Daarmee sal ons nóóit klaarkry nie, nie lidmaat, gemeente, ampsdraers of teologie nie. Hervorming wat ophou hervorm, is die naam nie meer werd nie. Al beskou jy jouself dan nog steeds as Hervormd, stóér Hervormd, is jy dit doodgewoon nie. Dalk het die 5% van ons wat die Almanak sê in die afgelope jaar uit die Hervormde Kerk weg is, dit ook agtergekom, maar dis veel belangriker dat ons wat nog hier is, dit besef.

As die Kerk vir jou gevoel skuif, vra eers hoekom. Soek die antwoord in hoe die Hervormde Kerk haar geloof krities verantwoord: haar teologie. Ons beoordeel geloof en die Kerk gans te veel net aan etiek. Dit kan seker ook nie anders nie, want helaas, ons kennis van die gesonde leer taan, en ons leergierigheid daarmee saam. Ons staan nie meer verwonderd oor die evangelie nie, ons soek fout met wie wat in die Kerk aanvang. Ons luister nie meer nie; die Kerk is die verhoog vanwaar ons gehoor wil word. Ons is vir die Kerk minder dankbaar as daaroor besitlik. Kritiek oorskry by verre ons liefde.

Die 5%-daling in lidmaattal is al wat ons, matrikulante en die ekonomie aan 2020 gemeen het. Oor die ander twee maak ons groot bohaai. Miskien is dit tyd dat ons ons oor lidmaattal van ons Kerk begin bekommer en daarmee soveel erns maak as wat ons reeds oor onderwys en geldmaak voel. Want dis nie weens jongmense se onkunde en ’n gebrek aan geld dat die Kerk kwyn nie, maar oor ons weersin aan self te leer en ons versuim om dankbaar te offer.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)