Twee onverwante beelde bly my by: ’n video van ’n tenkskip waarvan die boeg in stormsee knak en soos ’n melktand wat wissel rondswaai, en die fliek wat sonder twyfel in die ry staan vir ’n handvol toekennings: The trial of the Chicago 7.

Ek was lank betrokke by seemansending. Die onmiddellike Mayday! Mayday! van die radioman laat my ril. As ’n kwart van jou vaartuig voor jou oë afbreek, verg dit nie nadenke oor of jy ’n krisis in die gesig staar nie; jy wéét, en jy skreéú om hulp.

Maar die krisis is nie altyd so ooglopend nie. Tom Hayden, die karakter in die fliek Chicago 7, skitterend vertolk deur akteur Eddie Redmayne, sien die spreekwoordelike boeg breek; die regter Julius Hoffman (gespeel deur Frank Langella) egter nie. Die regter kan dit nie kleinkry dat sy skippie sink nie, en dreun wanhopig teen donderweer, en probeer in die laaste toneel komies en tragies tevergeefs sy verkrummelende wêreldjie met sy hamertjie regtimmer.

Dit laat my wonder of ons die oorgange tussen eras raaksien, die omvang van die verandering wat kom besef, en of ons soepel genoeg is om deur die noutes van stywe tydsgewrigte te kan wikkel. Hoe hou ’n mens die deur oop, die skarniere geolie, jou lyf skraal genoeg sodat jy kan deurkom, die oorgange en die deurgange tussen tydperke ten minste darem kan oorleef en, indien nie heeltemal ongeskonde nie, tóg anderkant uit kan kom en daar ’n sinvolle bestaan kan voer? Soos om op jou maag deur Kango se smalste tonnel te wil seil – jy moet vooraf eerlik bestek opneem oor of jy gaan pas en wat jy liefs maar aan dié kant sal moet los.

By grootskeepse verandering pas niemand gelate aan nie. Ons rou oor wat verlore gaan, en bly hardnekkig vaskleef aan wat ons bly glo tog mos beter was as wat die nuwe tydgees in ruil bied.

Die seeman roep Mayday, en internasionale konvensie maak hulp dwingend. Hulp sou kom. Die Chicago 7 soek ook hulp, en kry dit van mekaar, maar dalk net omdat hulle in dieselfde bootjie is en nood leer bid, want hulle is onverwagse bronne van steun, die onwaarskynlikste van bondgenote, teenpole van mekaar. Maar waar anders sal ons hulp vandaan kom, vra een, siende dat Martin Luther King, Malcolm X en Robert Kennedy almal in die stof gebyt het. Jesus ook: Jesus is dood… (Martin’s dead, Malcolm’s dead, Medgar’s dead, Bobby’s dead, Jesus is dead.)

Begrip vir konteks help as jy nog nie die nuwe tydgees onder die knie het nie. ’n Fyn aanvoeling vir iemand se goeie bedoelinge te midde van moeilike omstandighede werk versagtend as hy droogmaak. Twee keer verloën Tom Hayden (Redmayne) die groep van sewe. Hy staan in die hof op uit eerbetoon vir die regter, al is dit afgespreek dat die sewe uit protes sou bly sit. Nee, nie ter ere van die regter nie, tree Sacha Baron Cohen se karakter, Abbie Hoffman, vir hom in die bres, maar uit agting vir die instelling van ’n federale geregshof.

Dan blyk dit dat, van alle mense, juis hy, Tom Hayden, die een was wat op daardie gewraakte dag die skare tot geweld sou aangehits het. As daar dan bloed moet vloei, laat dit ten aanskoue van die hele stad gebeur. (Let us make sure that if blood is going to flow, let it flow all over this city.) En weer (as ek reg onthou) is dit Hoffman wat, verrassend vir sy karakter en raar vir ’n fliek uit Hollywood, ’n Skrifaanhaling maak.

Matteus 10: 34, toe Jesus gesê het, Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard, het Hy tog nie bloedvergieting goedgepraat nie! Daarvan getuig tog die konteks, die omringende verse.

Want Ek het gekom om ’n wig in te dryf, tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; en ’n mens se vyande sal sy eie huismense wees.

Die Woord is ’n swaard met twee snykante wat deurdring tot by gewrigte en murg. Die Woord is ’n skalpel wat skei om gesond te maak.

Beïndruk deur Hayden se beskaafde gedrag en meer aanvaarbare voorkoms, gee die regter aan Hayden die laaste woord. Foutjie! Dis sy doodsteek.

Dat God saam met ons die nou poorte aandurf, gee my moed.

Dat God die deurgange druk maak, verseker dat ek nie oortollige bagasie met my soontoe saamsleep nie.

Die liefde wat God se Woord my leer, hou my bedag op ander, op lewe. Mense maak saak. Mense hier by my en daar doer. Here, help my sagkens met mense werk.

Dat God en mense in my onmiddellike omgewing is. Iemand verstaan my konteks.

Dat God van die bedeling wat kom net so volkome in beheer is as van hierdie een, hou my soepel. Selfs as my skippie water sluk, kan ek op die Here reken. God hoor my Mayday!

Ons sal hierdeur kom, al spartelend, maar ons sál.

 

*** Die rolprent The trial of the Chicago 7 is tans op Netflix te sien.

 

 (Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)